Man in aanhouding skiet hom met polisiewapen

(Argieffoto)

’n 28-jarige verdagte het homself in polisieaanhouding om die lewe gebring nadat polisiebeamptes hom alleen gelaat het met ’n vuurwapen.

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het sedertdien ’n ondersoek gelas na die twee polisiebeamptes wat die verdagte, met slegs een hand aan ’n tafel geboei, alleen met ’n polisievuurwapen gelaat het.

Die voorval word deur Opod se ondersoekers bestempel as die ergste nalatigheid wat hulle nóg teëgekom het.

Grace Langa, woordvoerder van Opod, sê die polisiebeamptes het die verdagte verlede Donderdag in Makapanstad in Noordwes vir beweerde diefstal en huisbraak in hegtenis geneem.

Die polisiebeamptes het toe die verdagte se een hand aan ’n tafel in aanhouding geboei. Sy ander hand kon egter nog vrylik gebruik word.

“Een van die polisiebeamptes het na bewering aan sy kollega gesê dat hy winkel toe gaan en ’n sak op die tafel gelos waar die verdagte gesit het.”

Die ander beampte het later ook die vertrek verlaat om na sy bevelvoerder se kantoor te gaan. Die beampte se verweer was dat die verdagte immers aan die tafel geboei was.

Min het hy geweet dat die verdagte met sy vry hand die sak op die tafel sou deursoek, die vuurwapen uit die sak sou haal en homself in die kop sou skiet. Hy is op die toneel dood.

Die polisiebeampte hou vol dat hy nie van die vuurwapen in die sak geweet het nie.

Langa sê Opod gaan aanbeveel dat dié beampte ingevolge die wysigingswet op vuurwapenbeheer vir nalatige hantering van ’n vuurwapen aangekla word. “Die wysigingswet op vuurwapenbeheer van 2000 bepaal duidelik dat ’n vuurwapen altyd in die besit van die eienaar en in ’n holster moet wees. Die optrede in hierdie geval kom neer op growwe nalatigheid.”

Albei beamptes sal ook intern aangekla moet word vir die boei van slegs een van die verdagte se hande, aangesien albei hande ingevolge protokol geboei moes word.

Albei het boonop die verdagte sonder toesig gelaat. Geen verdagte mag alleen gelaat word tensy die verdagte in die selle is nie, wys Langa daarop.

“Opod ondersoek die saak en sal kriminele sowel as interne dissiplinêre optrede teen die beamptes aanbeveel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

Kokerboom ·

Die SAPD spoed onbeheersd voort na totale selfvernietiging EN … President kyk toe en doen NIKS

Persheks Adri ·

Bekotsingswaardig werklik Kokerboom hulle is en bly pateties verby en dis ons voorland hel!

JohanR ·

Los vir Cyril. Hy is besig om te werk aan die leuns wat hy nou komende Maandag vir die nasie gaan se.

VaalDonkie ·

Ek sou dalk effe meer ondersoek ingestel het. Klink vir my verdag.

Tiptol ·

Die polisie is nie eers op die afdraande pad nie, hulle is klaar op die bodem.

Persheks Adri ·

Hoe stupid is jy om jou wapen net so te laat rond lê? Aan jou of in ‘n kluis. Hoe weet jy nie waar is jou wapen nie en wie s’n is dit as jy nie weet nie? Kom hoed waar kruip jy weg?

Johann ·

Is net baie vreemd dat polisie stasies nie kameras in het nie. Dit is maar bietjie verdag.
En die “ergste graad van nalatigheid” sal seker verplig word om te sê askies en beloon woord met bevordering.

Frank ·

Ja nee, ek sal bietjie beter ondersoek wou doen na hierdie “self dood”. Nie asof hy ‘n moordenaar of iets was nie. Moontlik het hulle hom gedreig en toe per ongeluk geskiet? Was daar ander beamptes wat die skoot gehoor het en dadelik gaan kyk het?
Of soek ek nou bobbejaan-agter-die-berg?

Adelaide ·

Wel, die vuurwapen het seker nie self na die sak geloop en ingeklim nie. Polisielid lieg

Niklaas ·

Moenie sommer enige storie glo nie. Wie sê dinge het nie anders verloop nie? Dat die verdagte geskiet is deur een van die konstabels en toe word hierdie fabel opgetower. Want geen SAP lid is so onnosel om sy wapen te los , al is dit in ‘n sak, by’ n half geboeide verdagte. En hoekom sal die verdagte selfmoord pleeg, oor hy gevang is vir diefstal? Daar word eintlik nie eers meer tronkstraf gegee vir hierdie misdaad (nietige lastigheid in SA). Ek glo nie een woord hiervan nie.

Petrie ·

Sal nie sommer weer hiervan iets hoor nie. Die nalatige “beamptes” is toekomstige bevelvoerders. Oor twee weke word hulle al bevorder.

Anton J ·

Hier is slang in die gras. Die polisie het gerieflikheids onthalwe wetend wat gaan gebeur die vertrek verlaat met die vuurwapen in ‘n sak by die verdagte. Die polisie man het mos geweet sy vuurwapen is mos nie aan hom nie maar in ‘n sak by die verdagte. Of hulle het hom probeer help om te ontsnap wat skeef geloop het of hulle het sy nood kreet gehoor dat hy hom wil self om die lewe bring dat hulle hom daarin gehelp het. Ek dink eerder dit was ‘n ontsnapping poging waar hulle saam in beplan het maar dit het misluk. Swak.. You do the crime you must do the time.

Nie Verbaas ·

Hoe onnosel en pateties kan mens wees? Dit is n bewys van die tipe intellek wat deesdae kwalifiseer om n lid van ons BEE polisiemag te word.

Moeilikheid ·

ek weet wat nou gaan gebeur,die verdagte se familie sal nou n lompsom geldjies ontvang omdat die SAPD nalatig is,dit is so erg dat die SAPD so incompetent is.

Danie ·

Onthou die pffft
Afhangende van wie die gearresteerde was kon dit of beplan of gereel wees.

Sandra ·

Slegter as sleg. Miskien het hulle dit aspris gedoen om nie deur die papierwerk te hoef te ploeg nie.

Tanniepetoors ·

Die nalatige lid hier is die een wie se vuurwapen in die sak was. As ek reg lees is dit nie dieselde lid wat laaste die vertrek verlaat het nie en nou aangekla word nie. Iemand dink nie mooi nie.

Perdeby ·

Ek hoop hy word onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit, en ek bedoel sy diens wapen ook.

Marina ·

Ergste nalatigheid nog … ag asb. Ek is seker daarvan dit is met opset gedoen

christo ·

Ek ruik ‘n rot. Ek wonder of daar gekyk is of daar enige kruit merke op die verdagte se hande was. Die onbekwame lede kan bly wees die verdagte het nie op hulle losgebrand met die vuurwapen nie.

Jack ·

Nou ja dis hoe dit in die sapd gaan. Hulle was seker te lui om sy verklaring te kry nou is die nie meer nodig nie.

fs ·

o nee…hier is ‘n slang in die gras.. wat het daai saps 2 m weg te steek.. hier moet baaaaiiiee vrae gevra word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.