Man in hof oor dwelms in boot

Die dwelms waarop die Valke vroeër vanjaar beslag gelê het. (Foto: SA Polisie/Valke)

Die sesde verdagte wat die afgelope naweek vasgetrek is in verband met die reusedwelmvonds wat in Junie in Pretoria gemaak is, het Maandag in die Pretoria-landdroshof verskyn.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn kis met 805 kg kokaïen, ter waarde van sowat R400 miljoen, in die romp van ʼn boot op die N1-hoofweg gevind is.

Ses verdagtes, onder wie die 48-jarige Jaco de Kock, is sedertdien in hegtenis geneem.

De Kock is Saterdag by ʼn stoorfasiliteit in Strand, Kaapstad, in hegtenis geneem. Die fasiliteit word vermoedelik deur die dwelmsindikaat gebruik nadat twee bote op die perseel gevind is. Een daarvan was in die proses om aangepas te word sodat dit versteekte kompartemente het.

Lt.kol. Philani Nkwalase, polisiewoordvoerder, sê De Kock se borgtogaansoek is tot 23 Augustus uitgestel.

Hy sal dan saam met die ander vyf verdagtes, Michael Norman (38), Niel Pieter van Zyl (39), Rafiek Baderoen (44), Rashied Baderoen (48) en Tenikaitis Valdas (57), in die hof verskyn.

“ʼn Israeliese burger, Ahmed Isa, ook bekend as Mickey, asook twee burgers van Litoue, Donates Jukna en Jonas Zulpa, is egter steeds op vrye voet.”

Enigiemand met inligting oor waar dié drie verdagtes hulle moontlik bevind, kan AO Brittion by 082 778 2815, of die afdelingshoof van Saneb, brig. Naicker, by 082 778 2818 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Erita ·

Wonder altyd wat word van die produkte (kreef, perlemoen en al die ander) wat gekry is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.