Man in hof oor Piet Retief-bylmoorde

Argieffoto (Foto: Kent Williamson)

Afrika Shongwe (55) van Eswatini (Swaziland) bly in aanhouding ná hy Maandag in die landdroshof in Piet Retief verskyn het.

Brig. Selvy Mohlala, woordvoerder van die polisie, sê Shongwe het sy aansoek om borgtog laat vaar. Hy staan tereg op vier aanklagte van moord en oortreding van die Immigrasiewet.

Hy word beskuldig van die moorde op Philisiwe Makhubu (44) en haar kinders Andile Nkosi (13), Luyanda Nkosi (13) en Siphelele Nkosi (6).

Maroela Media het vroeër berig die gesinslede is vermoedelik met ʼn byl doodgekap voordat die polisie Vrydagaand op hul verminkte liggame in hul huis afgekom het.

Familielede kon ʼn geruime tyd lank nie die ma in die hande kry nie en het eindelik besluit om die polisie se hulp in te roep. Polisiebeamptes is toe na die huis om ondersoek in te stel. Die huis was gesluit. Hulle het noodgedwonge die deur oopgebreek en dit is tóé dat hulle op die gesin se lewelose liggame afgekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.