Siyabonga Shabalala (21) het Maandag in die Hammarsdale-landdroshof verskyn vir die moord op ʼn polisiebeampte verbonde aan die Mpumalanga-polisiestasie in KwaZulu-Natal.
Lt. Simphiwe Mhlongo, woordvoerder van die Valke, het gesê die polisiebeampte, Mthokozisi Phakathi (34), was nie aan diens nie toe hy op 17 Mei twee keer geskiet is. Phakathi is na ʼn plaaslike kliniek geneem waar hy aan sy beserings beswyk het.
“Die Mpumalanga-polisie in Hammarsdale het ʼn saak van moord ondersoek, waarna die Valke die ondersoek oorgeneem het,” het Mhlongo gesê. “Ná ʼn deurtastende ondersoek is Shabalala Vrydag in hegtenis geneem.”
Shabalala se saak is tot 30 Mei uitgestel wanneer hy na verwagting om borgtog sal aansoek doen. Hy bly in aanhouding.
Die motief vir die moord word nog ondersoek.