Man ondervra oor brand by parlement

Pres. Cyril Ramaphosa besoek Sondag die brandende parlement. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Een persoon is vir ondervraging geneem in verband met die brand wat tans by die parlement in Kaapstad woed.

Só het pres. Cyril Ramaphosa Sondagmiddag met sy aankoms by die brandende parlementsgebou aan verslaggewers gesê.

Ramaphosa is saam met onder meer die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, by die parlement om hom van die skade te vergewis nadat ’n brand vroegoggend uitgebreek het en reeds langer as nege ure woed.

Brig. Vish Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, het by navraag aan Maroela Media gesê ’n man in sy 50’s word tans ondervra in verband met die brand. Die polisie ondersoek intussen ’n saak van brandstigting en inbraak.

Die presiese oorsaak van die brand is nog onbekend, terwyl die omvang van die skade vermoedelik eers vasgestel sal kan word wanneer die vlamme geblus is.

Rook borrel uit die Nasionale Vergadering. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

“Ons moet dankbaar wees dat die tuiste van die Nasionale Vergadering nie platgevee is nie. Ons amptenare het werklik met groot bekwaamheid en spoed opgetree,” het die president gesê terwyl hy die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste geloof het.

Meer as 70 brandbestryders is reeds ontplooi om die brand in bedwang te bring.

Ramaphosa het die brand as ʼn “verskriklike en verwoestende” voorval bestempel, veral nadat die land ’n dag gelede van emeritus‑aartsbiskop Desmond Tutu afskeid geneem het.

Tutu sou ook geskok oor die nuus gewees het aangesien die parlement hom na aan die hart gelê het en in sy gebede was, het Ramaphosa gesê.

Rook borrel uit die parlementsgebou in Kaapstad. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Maroela Media het vroeër berig die brand het vroegoggend in kantore van die parlement ontstaan voordat dit na die gimnasium versprei het.

Die ou volksraad in die ou vleuel, sowel as die nuwe vleuel wat die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies huisves, word intussen ook deur die brand geraak.

JP Smith, Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, het gesê groot skade is veral aan die ou volksraad aangerig nadat die dak meegegee het.

Daar word reeds bespiegel oor waar vanjaar se staatsrede gaan plaasvind, sou dit weens die brand nie moontlik wees om dit by die parlement aan te bied nie.

Brandbestryders by die parlementsgebou. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Bykomende bron: News24

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Pietertjie ·

Die foto met Mandela op die voorgrond spreek nogal boekdele.

Di ·

Waar is die velilgheidswagte wat die plek moes oppas, of bestaan daar nie so iets nie. SKOKKEND dat ‘n plek soos DIE so maklik betree kan word om brand te stig. Om nie eers te praat van al die “dokumentasie” wat hier gehou word nie. Duidelik is daar geen veiligheids prosedure in plek nie, tipies van die ANC regering

My siening ·

Cyrel jy het nou gesien wat se volk het jul geskep vir SA! En die wet gehoorsame gaan betaal vir jul nalatigheid! Nuwe kommissie en geen resultate! ANC is n grap!

Karina ·

Die ANC heg nie waarde aan sulke historiese geboue nie want dit kom uit die ‘apartheids era” Dieselfde by die hospitaal wat gebrand het, vuurblussers het nie gewerk nie, swak instandhouding, geen sekuriteit nie. Uiters swak

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.