Man oorleef ‘wonderbaarlik’ na helikopter in dam neerstort

Dirk Steenkamp (Foto: Verskaf)

“Dit is ’n wonderwerk dat die helikopter in die dam beland het.”

Só vertel die suster van Dirk Steenkamp (36) nadat hy Donderdag met ’n helikopter in die Clanwilliamdam in die Wes-Kaap neergestort het. Steenkamp was besig om sitrusboorde te spuit toe sy helikopter om ’n onverklaarbare rede neergestort het.

“My broer sê als het so vinnig gebeur. Hy het nog gevlieg en die volgende oomblik net gevoel hy val. Die volgende oomblik was hy in die dam,” vertel die suster, wat graag anoniem wil bly.

“Hy het net heeltyd bly hardop bid.”

Die helikopter het in die middel van die dam beland waarna Steenkamp ’n hele ent na die wal moes swem.

Die Burgerlike Lugvaartowerheid (BLO) het intussen ’n ondersoek na die voorval gelas.

Kabelo Ledwaba, woordvoerder van die BLO, sê hul ondersoekspan is besig om inligting oor die ongeluk in te win.

“Ons het nog geen aanduiding wat die ongeluk kon veroorsaak het nie,” het Ledwaba aan Maroela Media gesê.

Die wrak van die helikopter lê in dié stadium nog op die bodem van die dam en moet na die oppervlak gebring word.

Steenkamp se suster sê sy glo die feit dat die helikopter in die dam beland het, het sy lewe gered.

“Tot dusver lyk dit asof my broer slegs uitwendige beserings opgedoen het. Hy het ook geen frakture of ander ernstige inwendige beserings nie.

“Alle eer aan God. Dit is net genade dat Hy hom bewaar het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Anel ·

Nou hoe ondersoek hulle as die helikopter nog in die dam is? Of is ek nou blond?

tweeling ·

“n Ondersoek begin die oomblik as iemand aangestel word om die ondersoek te doen, definitief nie wanneer jy eers die helikopter sien nie. Daar is verskeie faktore wat ondersoek word. Weer inligting moet verkry word, daar kon dalk ‘n laagdruk stelsel aanwesig wees wat die helikopter laat sukkel het. Daar is verskeie oorsake wat ‘n rol kan speel nie net ‘n engin of menslike fout nie

Herpiet ·

Psalm 50:15. “Roep my aan in die dag van benoudheid”…

Meisie ·

Is dit net ek of iets daar al hoe meer helikopters en vliegtuie wat neerstort?

Sanet ·

Meisie dit is beslis nie net jy wat so voel nie. Wat ek vermoed kan ek ongelukkig nie hier plaas sonder die nodige bewyse nie.

Surfer ·

Nou waste krag sou die helicopter laat neerstort het? Ons weet nou waste krag het sy lewe gered.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.