Man se been in veld geamputeer

Argieffoto

’n Man se been is vandeesweek noodgedwonge in die veld in die noorde van Pretoria geamputeer nadat sy been ná ’n rotsstorting ure lank onder ’n groot klip vasgedruk was. Die man se vriende het die oggend begin spook om hom te bevry, maar teen die middag nooddienste en later ’n vlugdokter ontbied. Sy been moes op die toneel geamputeer word.

Dr. Neville Vlok, ’n vlugdokter van Pretoria, het aan Maroela Media gesê ’n groep mans het Dinsdag omstreeks 09:00 in die veld in die omgewing van Onderstepoort gestap en vermoedelik onwettig gejag toe daar ’n rotsstorting plaasgevind het.

Groot klippe van ’n koppie het op die pasiënt, vermoedelik tussen 20 en 30 jaar oud, se been beland.

Volgens Vlok het die vriende wat saam met hom was deur die loop van die oggend probeer om sy been te bevry, waarna die nooddienste ná 15:00 ontbied is. Paramedici het die man ondersoek en bevind dat dit te onveilig vir die pasiënt sou wees om die klip van sy been te verwyder. Daar is toe besluit dat die man se been op die toneel geamputeer sal moet word en Vlok is ontbied.

Vlok sê dat hy ná 18:00 per helikopter na die omgewing gevlieg is en dat dit nog sowat ’n uur se stap daarvandaan na die pasiënt was. Paramedici het by sy aankoms op die toneel reeds met die prosedure begin en die span het die man se been onder narkose geamputeer.

Die pasiënt is toe sowat twee uur lank na die helikopter gedra om hom na ’n hospitaal te haas vir verdere mediese behandeling.

Volgens Vlok was die man in ’n kritieke toestand weens dehidrasie en koue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Scalla ·

Die berig meld dat hul onwettig gejag het, wat soek hul daar?

marius ·

Hoeveel plaas aanvalle was daar in dieselfde omgewing verlede week ?

Hekwag ·

Glo my, daar’s duisende ander soos hy met dieselfde dom idees..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.