Man skiet vrou, homself in winkelsentrum

Nooddienste op die toneel. (Foto: Vision Tactical/Twitter)

’n Man het na bewering vanmiddag (Dinsdag) ’n vrou in die Killarney-winkelsentrum in Johannesburg doodgeskiet voordat hy die vuurwapen op homself gerig het.

Brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê ’n man, vermoedelik in sy 40’s, het net ná 14:00 in ’n skoen-en-handsakwinkel in die winkelsentrum binnegegaan. Daar was in dié stadium twee werknemers aan diens.

Volgens Peters het die man homself aan een van die werknemers voorgestel en gevra om met die ander werknemer in privaatheid te gesels. Hy het gesê die werknemer is sy vrou.

Die man en die vrou (35) het in ’n private vertrek inbeweeg en daar is oomblikke later skote vanuit dié vertrek gehoor.

Paramedici is na die toneel ontbied waar hulle die man en vrou dood verklaar het.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat die voorval verband hou met huishoudelike geweld.

’n Saak van moord en ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.