Man gevonnis oor bedrog met inkomstebelasting

Argieffoto

John Robert Brice van Hermanus in die Wes-Kaap is gevonnis op 708 aanklagte van BTW-bedrog by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Die man het selfs sy ma oorgehaal om as ʼn BTW-ondernemer te registreer.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het gesê Brice is in die Bellville-streekhof gevonnis in verband met die misdade wat tussen Oktober 2012 en April 2015 gepleeg is. “Hy is tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis. Drie jaar daarvan is opgeskort vir ʼn periode van vyf jaar, op voorwaarde dat hy nie tydens dié periode op soortgelyke aanklagte van bedrog of vervalsing skuldig bevind word nie,” het Ntabazalila verduidelik.

Brice was tussen September 2012 en Maart 2015 as ʼn BTW-ondernemer geregistreer en het bedrog en vervalsing gepleeg. “Hy het BTW van die SAID geëis en aangevoer daar was sekere transaksies tussen hom en sekere diensverskaffers. Hy het BTW-terugbetalings geëis.”

Vervalste fakture is gebruik om die eise te staaf en die SAID het die geld in sy bankrekeninge inbetaal. Hy het vinnig die geld onttrek en dit vir persoonlike gewin aangewend.

“Hy het sy ma ook as ʼn BTW-ondernemer geregistreer en tussen Augustus 2013 en Februarie 2015 valslik BTW-terugbetalings namens haar geëis. Die terugbetalings, wat in haar rekening inbetaal is, is ook vinnig onttrek.”

Brice het sy ma mislei en sy was onder die indruk dat hy ʼn nuwe onderneming op die been gebring het en dat dit meer doeltreffend sou wees as hy haar naam en BTW-profiel sou gebruik. “Sy was nie deel van sy misdrywe nie,” het Ntabazalila bygevoeg.

Die SAID het ʼn oudit gedoen en hom versoek om stawende dokumente in te dien. Hy het vervalste belastingfakture ingedien om die SAID-ouditeure te mislei. “Die ouditeure is egter nie van stryk gebring nie en Brice is aangekla van bedrog en ander aanklagte.”

Die man het skuld beken oor die bedrogskema en gesê dat hy self die bedrogskema beplan en uitgevoer het. Aanklagte teen sy ma is gevolglik  teruggetrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Herman ·

Dagsê Maroela Media

‘n Paar wenke vir dir artikel:

Die opskrif maak nie sin nie en verwys boonop na inkomstebelasting terwyl die inhoud van die artikel na BTW verwys.

Die korrekte term is verder “BTW-ondernemer” en nie “handelaar” nie (artikel 1 van die BTW-Wet).

Daan Erasmus ·

Nou wat word van Zuma se belasting sake. Dit is die manier hoe die meeste Mafia base in die VSA in die tronk beland het. Dit is gewaarborg om hier ook te werk.

Bedrogspul ·

Net jammer die hool opsigself is een groot ongeneesbare bedrogspul.

Cherokee ·

Dit klink asof BTW-bedrog erger is as staatskaping. Ten minste weet ons nog nie een staatskaper wat vervolg is nie. En terloops, dit laat die vraag oop of sy bedrog erger was as diè van Brian Molefe.

Kokketiel ·

Hulle wou nie hê SARS moet in die berig verskyn nie, sit nog en wag vir ons belasting bydraes

Tania Heyns ·

Dagsê lesers

Dankie vir julle kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Kraaibakke ·

Ja SARS skuld my 2 jaar lank al R40000.00 ,lyk my nie geld om my te betaal .Hulle se ek skuld hulle R2000.00 en moet dadelik betaal ,dis n hool daardie plek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.