Man vas vir Rustenburg-sakeman se moord

(Foto: Sonnieka Coetzee)

Die Rustenburgse polisie het ʼn deurbraak gemaak in sy soektog na die verdagtes wat verlede maand ʼn 49-jarige sakeman koelbloedig buite ʼn koffiewinkel doodgeskiet het.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê ʼn man is Dinsdag in hegtenis geneem vir sy beweerde betrokkenheid by die moord op Ben Gumbi.

“Die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy in die hof in Germiston verskyn het waar ʼn afsonderlike aanklag van gewapende roof hom in die gesig staar,” sê Mokgwabone.

Sibongiseni Ngubane (33) het Donderdag in die Rustenburg-landdroshof verskyn in verband met Gumbi se moord.

Die saak is tot Dinsdag uitgestel vir verdere ondersoek. Ngubane bly tot dan in aanhouding.

Gumbi, ʼn bekende sakeman in Rustenburg, is verlede maand deur twee mans buite Plato Coffee in Kockstraat doodgeskiet. Gumbi het pas by die koffiewinkel aangekom toe die verdagtes toegeslaan het.

Die verdagtes het van die toneel gevlug, maar hul motor is later verlate op die hoek van Helen Joseph- en Louriestraat gevind.

Mokgwabone het destyds gesê dat die motief vir die voorval nog nie vasgestel is nie.

Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale polisiekommissaris, het die ondersoekspan bedank vir hul toewyding wat tot die inhegtenisneming gelei het.

Nog ʼn verdagte is steeds soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.