Man vas wat Eskom se Oberholzer glo met bom dreig

Jan Oberholzer. (Foto: Eskom/Twitter)

ʼn Man is Vrydag in hegtenis geneem vir ʼn bomdreigement wat hy na bewering aan Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, gestuur het.

Die inhegtenisneming kom sowat ses maande nadat die dreigement aanvanklik gestuur is.

Eskom het in ʼn verklaring gesê Oberholzer het die dreigement in Mei vanjaar van ʼn onbekende nommer ontvang. Die kragvoorsiener se interne veiligheidspan het toe dadelik die voorval by die polisie aangemeld.

“Dit is vasgestel dat die persoon wat die boodskap gestuur het, ʼn ongeregistreerde SIM-kaart gebruik het om die dreigement mee te stuur,” lui die verklaring.

Die Valke, in samewerking met die private ondersoeker Bidvest Protea Coin, het eindelik Vrydag daarin geslaag om ʼn verdagte op te spoor. Die polisie het in die Vosman-omgewing in Emalahleni, Mpumalanga, op die verdagte toegeslaan.

Volgens Eskom is daar ʼn oorweldige aantal bewyse wat die 27-jarige verdagte met die misdaad verbind.

Hy is in polisieaanhouding totdat hy volgende week in die hof verskyn.

Adv. Karen Pillay, sekuriteitsbestuurder by Eskom, sê dit is kommerwekkend dat Eskom se topbestuur so geteiken word.

“Die aard van hierdie dreigemente noop enige persoon om op hul eie persoonlike veiligheid, en dié van hul familie te fokus eerder as wat hulle op die broodnodige werk waarmee hulle gelas is, te fokus,” sê sy.

Volgens Pillay is ander van Eskom se topbestuurslede ook die afgelope paar maande met hierdie soort boodskappe geteiken.

“Ons is egter dankbaar vir die Valke vir hul suksesvolle ondersoek en pogings om hierdie verdagte en ander soos hy op te spoor en vas te trek.”

Eskom het onderneem om die polisie die nodige bystand te gee om te verseker dat die skuldige aan die pen ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Keelvol ·

Ek blameer die man glad nie. Almal is al behoorlik keelvol vir beurtkrag. Seker mense weier om vir Krag te betaal en hulle kry spesiale behandeling met beurt krag. Terwyl ons ander betaal word ons erg onder beurt krag gewerp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.