Man vas wat hom as Valke-lid voordoen

(Argieffoto: SA Polisie/Facebook)

ʼn 52-jarige man is vroeër vandeesweek in hegtenis geneem nadat hy homself voorgedoen het as ʼn lid van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) en ʼn persoon se huis deursoek het vir dwelms.

ʼn Voorlopige ondersoek dui boonop daarop dat die verdagte wel byna 30 jaar gelede ʼn polisiebeampte was, maar in 1993 uit sy amp bedank het.

Kapt. Christopher Singo, polisiewoordvoerder, sê die man is Dinsdag in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat ʼn gesamentlike ondersoek deur die Valke en die honde-eenheid beamptes na die man se voorstoep gelei het.

Sy inhegtenisneming volg nadat die Valke twee weke gelede inligting ontvang het dat ʼn man hom as ʼn brigadier by die Valke voordoen.

“Daar word beweer dat die verdagte op ʼn bedrieglike wyse lede van die honde-eenheid gekry het om ʼn perseel te deursoek. Die eienaar van een van die persele wat deursoek is, het die polisie oor die voorval in kennis gestel,” sê Singo.

“Die verdagte het glo aan die betrokke eienaar van die huis gesê dat hy die perseel moet fynkam vir dwelms. Toe die eienaar egter die lasbrief van die valse polisiebeampte geëis het, kon hy dit nie aan hom oorhandig nie.”

Die polisie is oor die voorval in kennis gestel, en die verdagte is eindelik opgespoor.

Tydens die verdagte se inhegtenisneming het die polisie sy huis deursoek en beslag gelê op altesaam tien vuurwapens asook ʼn ou polisieuniform.

“Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat die verdagte op ʼn bedrieglike wyse by die Trots Pellissier- buurtvereniging aangesluit het deur aan lede te sê dat hy ʼn polisiebeampte is,” sê hy.

“Daar is ontdek dat die verdagte wel destyds ʼn polisie beampte was, maar bedank het.”

Die verdagte sal na verwagting eersdaags in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Die Valke het intussen ʼn beroep op die Vrystaatse gemeenskap gedoen om met enige inligting na vore te kom van mense wat hul voordoen as polisiebeamptes. Die Valke vra ook dat slagoffers van rooftogte deur beweerde polisiebeamptes, of diegene wie se persele onwettig deursoek is, kapt. Chop Putter by 082 784 4188 moet bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek sal te skaam wees om te sê ek is ‘n wetstoepasser in Suid-Afrika sal eerder my voordoen as ‘n sekuriteits beampte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.