Man vermis na bote bots

Argieffoto: NSRI Houtbaai, NSRI Facebook

’n Man word vermis nadat twee bote Sondagaand digby die hawe in Houtbaai in die Wes-Kaap gebots het.

Geoff Stevens, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se Houtbaai-basis, sê lede van hul Houtbaai- en Kommetjiebasis asook die polisie en verskeie ambulansdienste is 19:47 na die hawe ontbied. Met hul aankoms op die toneel, is bevind dat twee bote teen mekaar gebots het en dat ’n man, blykbaar die bestuurder van een van die bote, in die proses spoorloos verdwyn het.

“Dit lyk asof een boot moontlik in die water stilgestaan het sonder dat sy navigasieligte aangeskakel was, maar dit kan nog nie amptelik bevestig word nie,” sê Stevens.

“Die volgorde van gebeure is ook nog onduidelik, maar dit blyk dat die vier bemanningslede van die een boot en die twee bemanningslede van die ander boot tydens die ongeluk oorboord geval het.”

Plaaslike vissersbote wat ten tyde van die ongeluk in die omgewing was, het die bemanningslede te hulp gesnel en vyf mans in totaal na die hawe geneem. Hulle kon egter een van die bemanningslede nie opspoor nie.

ʼn Ander bemanningslid is per ambulans na ’n nabygeleë hospitaal geneem waar hy tans in ’n stabiele toestand is.

Die twee bote is na die hawe geneem en albei het aansienlike skade opgedoen.

NSRI se lede van die Houtbaai-basis en die polisie se duikeenheid het ’n uitgebreide soektog na die vermiste man, wat vermoedelik in sy 30’s is, van stapel gestuur. Die soektog is vanoggend (Maandag) voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Retha ·

Mens kan nie dink in so ‘n grote see dat 2 bote kan bots nie, was seker reeds donker en die een se navigasie toerusting was nie aan nie, Ai, ek hoop hulle kry die man ongedeerd.

Danie ·

Maar niemand sal sê wat die bote in die donker op die water doen nie.
Indien dit ons gewone stropers van die see is moet elke sent van die reddingspoging van hulle verhaal word want hulle stel die lewens van die NSRI manne in gevaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.