Man vir waarneming gestuur oor liggaamsdele in vrieskas

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

ʼn 26-jarige man wat glo verskeie liggaamsdele in ʼn vrieskas by sy woonplek gehou het, gaan vir sielkundige waarneming gestuur word. Dit volg nadat die man na bewering by twee geleenthede sy eie lewe probeer neem het.

Flavio Hlabangwane se vriendin het verlede Saterdag op liggaamsdele in die vrieskas afgekom terwyl hy haar na bewering alleen in sy gehuurde kamer in Protea Glen, Soweto, gelaat het. Die liggaamsdele is vermoedelik almal dié van ʼn vrou.

Volgens Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het dit Maandag in die hof uitgekom dat Hlabangwane by twee geleenthede sy eie lewe probeer neem het. Hy is vir sielkundige waarneming verwys.

Die saak is tot volgende Maandag uitgestel in afwagting van die sielkundige evalueringsverslag.

“Die hof het beveel dat Hlabangwane by die hospitaalafdeling by die Johannesburgse Korrektiewe Dienste aangehou word aangesien hy mediese aandag en spesiale sorg kan benodig,” bevestig Mjonondwane.

Hlabangwane staan primêr tereg op aanklag van moord. Hy word ook aangekla van die oortreding van die Wet op Geregtelike Ondersoek omdat hy versuim het om die liggaam van die oorledene by die polisie aan te meld.

Die liggaamsdele is verlede week na ʼn forensiese laboratorium gestuur sodat die persoon geïdentifiseer kan word, maar daar is nog geen uitslag bekend gemaak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Perdeby ·

Hoe siek moet jy nie wees nie. Die kop af te sny en te gaan begrawe, as dit nie vir daardie meisie was nie sou dhy seker letterlik met moord weg gekom het.

Mariana ·

En haar waarskynlik ook vermoor het wanneer hy met haar klaar was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.