Man wat dakloses help, erg aangerand

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn 47-jarige inwoner van Kameeldrift-Wes, Pretoria, is erg getraumatiseerd nadat hy glo deur twee jong mense op sy kleinhoewe aangeval, vasgebind en vir die dood agtergelaat is. Dié paar het na bewering die man se werker grusaam vermoor en daarna sy huis byna rot en kaal besteel.

Die man self is twee dae lank sonder kos en water gelaat, voordat ʼn familielid op hom afgekom het.

Kapt. Bongikosi Msimango, polisiewoordvoerder, het bevestig die vrou is intussen al vasgetrek en het reeds in die hof verskyn. Haar borgtogaansoek is Vrydag van die hand gewys.

Die polisie het ʼn lasbrief vir die man se inhegtenisneming uitgereik, het Msimango bevestig.

Die inwoner, wat graag anoniem wil bly, vertel hy het op 11 Februarie die paar en hul hond uit die “goedheid van sy hart” by hom ingeneem. Die paar het aan hom vertel hulle kry swaar en het nie ʼn heenkome nie. Die inwoner het hulle toe in een van sy buitekamers laat bly en vir hulle kos gegee.

Die aanval het glo die volgende Donderdag (17 Februarie) tussen 13:00 en 14:00 plaasgevind.

Volgens die inwoner was hy en die jong man by die kragboks doenig toe die eerste hou hom van agter teen die kop tref. Hy is na bewering met ʼn gietysterpan oor die kop geslaan.

Hy is glo vir ʼn ruk lank aangerand.

“Hulle het my daarna met elektriese kabels op die badkamervloer vasgemaak en daar vir die dood agtergelaat.”

Die polisie het ‘n lasbrief uitgereik vir die inhegtenisneming van dié man (Foto: Verskaf)

ʼn Familielid het eers twee dae later op hom afgekom. Hy was toe reeds erg gedehidreer. “Ek was baie dors, maar het geen begrip van tyd gehad nie. My liggaam het geestelik en fisiek heeltemal afgesluit.

“My hande was so styf vasgemaak, ek kon later nie meer my vingers voel nie. Dit het soos besemstokke gevoel.”

Die inwoner se werker het die skermutseling in die huis gehoor en na die huis gegaan om ondersoek in te stel. Die twee verdagtes het hom toe glo ook oorval, aangerand en vermoor.

Die inwoner sê die verdagtes het sy huis en stoor omtrent leeggesteel en met die goedere in sy wit enkelkajuitbakkie gevlug. Volgens Bianca Burger, die skakelbeampte van die Groenlig-gemeenskapsprojek in Kameeldrift-Wes, is die bakkie intussen verkwansel.

Die inwoner het ses dae lank in die hospitaal deurgebring en het verskeie beserings aan sy gesig, ribbekas en kop opgedoen.

Hy is nou terug by die kleinhoewe, maar sê hy is bang dat “hulle” weer sal terugkom. Hy kan ook nie glo dat die mense – teenoor wie hy goedgesind was – hom so aangerand het nie.

Volgens Burger is die gemeenskap diep deur die voorval geraak. Sy doen ʼn beroep op die gemeenskap om te help om die oorblywende verdagte op te spoor.

Enigiemand met meer inligting wat tot die verdagte se inhegtenisneming kan lei, kan die ondersoekbeampte, kapt. Martin Smit, by 081 524 5089 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

AmY ·

Bitter wreed.
Dat mense nou so ondankbaar kan wees.
Was seker hulle plan reg van die begin af.

Di ·

DIT is die rede hoekom mense nie meer ander wil help nie, deur gemors soos die! Hoop hy word gevang en vrot in die tronk waar hy hoort.

Mariana ·

Vuilgoed. Dis hoekom mense sku is om ander te help, juis oor die tipe van goed gebeur. Rand die een aan wat hulle voed. Hoop hulle kry die straf wat hul toekom. Wêreld is ‘n wrede plek

Jaada ·

Pasop wie jy help, doen dit eerder deur ‘n erkende organisasie as wat jy dinge op jou eie doen.

Saartjievandiebosveld ·

Dit klink seker lelik…en onchristelik. ..dis hoekom ek niemand help wat ek nie ken nie.

Koen ·

Nou wonder ek. Die mense wat so aangaan oor gansies in damme. Wonder so by myselwers. In wie se dame sal hierdie gansies nou swem? kry vir julle en swem lekker saam.

Petrus Albertus ·

Sjoe man! Hierdie opmerking is in die swakste smaak denkbaar.

Papsak ·

Ons lewe so wreed geword moenie enige een bly plek gee nie jy tel ook nie rylopers meer op nie want hoekom hulle maak jou dood en vat jou besittings

Pietertjie ·

Meng jou met semels…

Daar’s dikwels ‘n goeie rede hoekom sekere mense “sukkelaars” bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.