Mans doodgeskiet wat glo ryloper wou beroof

(Foto: Verskaf)

Twee mans is Donderdag doodgeskiet nadat hulle ʼn ryloper in Nelspruit laat saamry het en hom glo probeer beroof het. Die oorledenes was glo by ander gevalle betrokke waar rylopers saamrygeleenthede gekry het en beroof is.

Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder, sê die vermeende rowers was vanoggend in ʼn silwer Volkswagen Polo in die rigting van Malelane op pad, toe hulle ʼn rygeleentheid aan ʼn ryloper in Valencia in Nelspruit aangebied het.

Die mans het na die Croc Valley-plaas gery waar een van hulle na bewering ʼn mes uitgeruk het in ʼn poging om die ryloper te beroof.

“Daar word beweer dat die ryloper ʼn vuurwapen uitgehaal en albei mans geskiet het,” sê Mdhluli.

“Een van die vermeende rowers is op die toneel dood, terwyl die ander een op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk het.” Dit is nog nie duidelik wie die oorledene na die hospitaal gejaag het nie.

Die polisie is oor die voorval in kennis gestel en na die toneel ontbied. ʼn Saak van gewapende roof is aanhangig gemaak en twee geregtelike doodsondersoeke is van stapel gestuur.

Dit is nog nie duidelik of die ryloper enige aanklagte te wagte kan wees nie, maar hy is nog nie in verband met die twee se dood in hegtenis geneem nie.

Daar is wel al op die ryloper se vuurwapen beslag gelê, asook die oorledenes se mes en motor. Die items sal deel vorm van die polisie se ondersoek.

“Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die oorledenes se motor moontlik verbind kan word met ander aangemelde voorvalle waar rylopers met wapens beroof is,” sê Mdhluli.

(Foto: Verskaf)

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris in Mpumalanga, het intussen lede van die publiek opnuut gemaan om nie te ryloop nie.

“Maak eerder gebruik van ander openbare en veilige vervoermiddels om met die minimum risiko jou bestemming te bereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Marius ·

Dit is deesdae ook net so gevaarlik om ‘n ryloper op te laai. Die wêreld het siek geword.

Delia ·

Moet die mense eerder in taxis klim
…openbare vervoer…regtig. Is dit die oplossing.

Onnie ·

Seker daarvan dai 2 rowers sit nou heel verward in die hiernamaals – hulle het seker nie verwag dat die hul slagoffer hul albei sou uitvat nie. Lol.

Di ·

Ja nee jou sondes haal jou wel in! Kriminele dink hulle gaan vir ewig wegkom daarmee dan gebeur dit wat nou hier gebeur het.

tweeling ·

Ek is altyd verstom hoe maklik swart bstuurders rylopers oplaai. Sal nie eens maklik ‘n wit ryloper oplaai nie wat nog te sê van ‘n swarte

Carel ·

Ek sal nie verbaas wees as die ryloper ‘n vorige slagoffer van gewapende roof was nie. Hy stel heelwaarskynlik “lokvalle” vir voornemende kriminele en skiet hulle dan uit “selfverdediging”

In elk geval; net ‘n teorie.
Die ryloper het gans te “voorbereid” opgetree & van wanneer af het rylopers vuurwapens aan hulle persoon?

Johan D ·

Nee man Carel man, almal moet te alle tye voorbereid wees vir enige gebeure en daarom het hy ʼn vuurwapen by hom gehad en van wanneer af is dit vreemd vir ʼn ryloper om ʼn vuurwapen te hê, is daar iets wat hulle dit verbied?

Swerwer ·

Die rowers het dit verdien, gelukkig dat die ryloper sy wapen by hom gehad het om homself te beskerm.

Impact ·

By Dinokeng se vier hekke staan daar gereeld mense wat ‘n “lift” soek, ek laai niemand op nie – gee nie om wat hulle kleur is nie – EK LAAI NIEMAND OP NIE!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.