Mans gesoek ná skote klap in Bloem

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Die polisie in Mangaung het ʼn soektog van stapel gestuur nadat ʼn groep mans Sondag op ʼn kleinhandelkettingwinkel in Bloemfontein toegesak en goedere uit die winkel geplunder het. Die verdagtes het daarna ʼn vrou probeer beroof, ʼn polisiekonstabel geskiet en ʼn veiligheidswag as gyselaar gehou.

Volgens berigte het ʼn groep van sowat agt mans die winkelvensters omstreeks 18:00 met hamers stukkend geslaan, ingestorm en die winkel van duur parfuums, sonbrille en klere beroof.

Lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die groep het na bewering daarna in twee verdeel, met een groep wat na die Kings Way-afrit gehardloop het en die ander wat op pad was na die stormwaterdreineringstonnel aan die westekant van die winkelsentrum.

“Daar word beweer dat een van die groepe op pad na die tonnel op ʼn vrou afgekom en haar van haar besittings probeer beroof het. ʼn Lid van die departement van korrektiewe dienste wat nie tydens die voorval aan diens was nie, het die rooftog gesien en probeer ingryp.

“Een van die aanvallers het ʼn vuurwapen op die beampte gemik en die sneller getrek. Die groep het toe weggehardloop en in die stormwaterdreineringstonnel verdwyn.”

Volgens Covane het die ander groep ʼn veiligheidswag by die Kings Way-afrit as gyselaar gehou.

“ʼn Polisievoertuig wat Kings Way gepatrolleer het, het die rumoer opgemerk en stilgehou om ondersoek in te stel.

“Die rowers het op die voertuig losgebrand en ʼn 41-jarige konstabel van die misdaadbekampingseenheid op die regterheup raakgeskiet. Die beampte het ter wille van sy veiligheid probeer wegry, maar het bewusteloos geword, waarna die verdagtes hom van sy vuurwapen en ammunisie beroof het.”

Covane sê die verdagtes het te voet en in motorvoertuie in verskillende rigtings van die toneel gevlug.

“ʼn Saak van inbraak, roof en poging tot moord is by die Parkweg-polisiestasie oopgemaak.

“Albei gewonde beamptes is na die hospitaal vir behandeling geneem en ʼn span kundiges is ontbied om die misdaadtonele te verwerk,” sê Covane.

Mense met inligting wat met die ondersoek van die saak kan help of tot die inhegtenisneming van die verdagtes kan lei, word versoek om kol. Msokoli Bolsiek by 082 466 8530 te bel óf die inligting op die MySAPS-app in te dien.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.