Mans wat aan waterklep werk verdrink

Verskeie nooddienste was op die toneel. (Foto: Netcare 911)

Twee werkers het Donderdagmiddag in Bryanston, Johannesburg, verdrink terwyl hulle aan ʼn waterklep in ʼn diep put gewerk het.

Die werkers se toesighouer het die voorval sien gebeur en ingespring om hulle te red, maar het self byna verdrink.

Netcare 911 en die Stad Johannesburg se nooddienste het kort ná 11:00 op oproepe gereageer ná die verdrinking van die twee mans.

Die Stad se brand- en reddingsdiens, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), ʼn soek-en-reddingspan en die honde-eenheid was ook op die toneel.

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, sê die mans het in ʼn diep put in ʼn oop veld in die gebied gewerk toe die voorval plaasgevind het.

“By paramedici se aankoms is hulle meegedeel dat twee werkers aan ʼn koppeling van ʼn groot ondergedompelde waterklep gewerk het, toe hulle in die moeilikheid beland en verdrink het,” sê hy.

“Die toesighouer het die voorval gesien gebeur en in die water gespring om hulle te probeer red. Hy het in die moeilikheid beland en byna verdink, maar kon homself net betyds uit die water kry.”

Nooddienste op die toneel het toerusting gebruik om die watervlak te help verlaag, waarna polisieduikers in die put afgehys is.

Die duikers het die soektog na die twee mans, albei in hul 40’s, voortgesit en hulle kort daarna sowat byna 10 m diep aangetref.

“Nadat die mans se liggame na die oppervlak gebring is, is albei op die toneel dood verklaar.”

Volgens Herbst sal die omstandighede van die voorval deur die betrokke wetstoepassingsowerhede ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Oshol ·

Was die nodige voorsorg getref ?
1 ) gastoets in die put
2 ) veiligheids baatjies en toue

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.