‘Mans wat Sassa bedrieg’ in Limpopo vasgetrek

(Argieffoto: ANA)

ʼn Groep mans is vandeesweek in hegtenis geneem nadat hulle jare gelede hulself as gestremd voorgedoen het om ongeskiktheidstoelae te ontvang.

Twee van dié mans is oudwerkers van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) en het glo die toelaagbedrog beplan en die aansoeke goedgekeur.

Lt.kol. Matimba Maluleke, woordvoerder van die Valke, sê die twee meesterbreine en hul nege medepligtiges is tydens ʼn twee dae lange operasie in Tzaneen, Limpopo, in hegtenis geneem.

Daar word beweer dat die voormalige Sassa-werkers in 2018 in hul hoedanigheid as administrasieklerke lede van die publiek gewerf het om aansoek te doen vir ongeskiktheidstoelae, hoewel hulle nie gestremd was nie.

“Nadat hul aansoeke suksesvol verwerk is, is die eerste paar betalings aan die oudwerkers gegee. Daarna het die ander verdagtes voortgegaan om die toelae te ontvang totdat dit deur Sassa-owerhede ontdek is.”

Volgens Maluleke het Sassa meer as R200 000 aan die bedrieërs afgestaan.

Die oudwerkers is in Februarie 2021 in hegtenis geneem vir soortgelyke oortredings, en is later op borgtog vrygelaat. Terwyl hulle op borgtog uit was, het dit aan die lig gekom dat die werkers glo by verskeie ander slenters betrokke was.

Die verdagtes, almal tussen die ouderdom van 38 en 61 jaar oud, het Vrydag in die Tzaneen-landdroshof verskyn.

Dié inhegtenisnemings volg op ʼn week waarin verskeie Sassa-begunstigdes nie toegang tot hul toelae kon kry nie weens tegniese uitdagings by Posbank. Nadat die uitdagings opgeklaar is, het duisende mense se geld egter steeds nie in hul rekeninge gereflekteer nie. Sedertdien probeer sommige mense wat reeds hul toelae ontvang het om dit weer te eis.

“Daar is mense wat reeds hul toelae ontvang het, wat nou beweer dat hulle dit nie gekry het nie sodat hulle dubbel die geld kan kry,” het Ntomboxolo Nikki Mbengashe, uitvoerende hoof van Posbank, vroeër vandeesweek oor die situasie gesê.

Posbank het reeds die bedrieglike bedrywighede by wetstoepassingsagentskappe aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.