Mantashe sê oor planne vir elektrisiteit  

Minister Gwede Mantashe. Foto: @MiningIndaba
/Twitter

Gwede Mantashe, minister van energie en minerale bronne, het by die mynbou-indaba in Kaapstad aangekondig die regering wil verspreide kragopwekking moontlik maak.

Mantashe het gesê daar is ná instemming van die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) met ʼn proses begin om ʼn hersiene tweede bylaag van die Wet op Elektrisiteitsregulasies saam te stel.

“Dit sal selfopwekking moontlik maak en munisipale opwekkingsopsies fasiliteer onder verspreide kragopwekking.

“Dit sal help om die gaping te vul wat veroorsaak word deur verswakte prestasie van Eskom se kragstasies. Na gelang van die omstandighede sal die opwekkingsaanleg slegs registrasie vereis en nie lisensiëring nie,” het Mantashe gesê.

Die minister het ook verwys na die versoek om inligting wat in Desember 2019 uitgereik is waarin rolspelers versoek is om met innoverende potensiële oplossings vorendag te kom om krag so vinnig as moontlik aan die elektrisiteitsnetwerk te lewer.

“Ons verwelkom alle insette van die mark, en dit gee die departement ʼn gevoel van moontlike opsies vir onmiddellike opwekking wat binne die volgende drie tot 12 maande beskikbaar is om die gaping op die kort- tot mediumtermyn te vul.”

Volgens EWN het Mantashe ook gesê die skep van ʼn tweede entiteit vir kragopwekking is ʼn stap in die regte rigting om die hoë koste van elektrisiteit in die land hok te slaan.

Mantashe het ook Dinsdagoggend benadruk die fondasie vir groei in Suid-Afrika is ʼn stabiele minerale- en energienywerheidskompleks.

“Opwekkingskapasiteit buite Eskom gaan nie net daaroor om mededingend met Eskom te wees nie. Dit gaan daaroor om te verseker dat daar ʼn veilige energievoorsiening is. Ons moet saamwerk om ekonomiese groei te bevorder.”

Die VF Plus het intussen Mantashe se aankondiging dat onder meer myne toegelaat sal word om hul eie krag op te wek, verwelkom.

Dr. Wynand Boshoff, die party se woordvoerder oor energie, het gesê Mantashe se ander uitspraak dat ʼn nuwe entiteit om krag op te wek in die lewe geroep moet word, is egter ‘n teleurstelling.

“Dit is reeds etlike jare die VF Plus se standpunt dat verbruiker-produsente die beste oplossing vir kragtekorte is. Dit sal huishoudings, plase, fabrieke en myne in staat stel om hul eie krag op te wek, en ook om ʼn inkomste uit surplusvermoë te verdien. Sodoende sal duisende rolspelers mekaar op die nasionale netwerk aanvul.

“Dit lyk egter of die regering hardnekkig aan ʼn uitgediende sentralistiese model vasklou. So word die voordele van robuus verspreide kragvoorsiening verbeur.

“Markkragte werk egter in die teenoorgestelde rigting as die regering en ervaring leer dat geen regering dié kragte op die lang duur kan weerstaan nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vriendelike Frikkie ·

Ek gaan ook vir sonpanele en ‘n omsetter wat die vermoeë het om krag terug te sit in die netwerk in. Miskien, dalk net miskien kan ek so ‘n paar rand terugmaak om op te maak vir Eskom se skade aan my beursie. Ek sal krag terugverkoop aan hulle teen dieselfde prys as wat ek daarvoor moet betaal.

henndrik ·

Dit het tot nou nie gebeur nie want die alternatiewe gaan nie ‘n geld skep opsie he nie want dit is privaat

Leon ·

Deur onafhanklike operateurs toe te laat, kan ESKOM se tekort aangevul word wat beurtkrag tot niet sal maak. Ek dink ESKOM wil hê ons moet beurtkrag kry sodat hulle kan aanhou karring vir verhogings. As daar nie meer beurtkrag is nie dan kan hulle nie huil vir meer geld nie.

Jonnybegood ·

Ek gebruik nou reeds ‘n geruime tyd Inverters. Die batterye hou baie lank en daar is geen geraas nie. Wil heeltemal wegkom van Eskom af

Jaco ·

ja, dan gaan dit soos met kaapstad se waterkrisis: ‘n entrepreneur het n groot en goedkoop ontsoutingsprogram aan die stadsraad aangebied. dit sou ook al kaapstad se waterprobleme oplos. maar toe word dit afgeskiet deur nogal n DA stadsraad, NET omdat die entrepreneur se besigheid glo nie regstellende aksie en BEE reg toepas nie.
Dieselfde sal met onafhanklike kragvoorsieners gebeur: die “regte” velkleur sal die deurslag gee. Maar tot dan moet gewone mense (meerderheid nogal ironies ook met die “regte” velkleur) maar swaarkry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.