Marknavorsing wys groeiende steun vir onafhanklike Wes-Kaap

Kaapstad (Foto: Heinrich Botha/Pixabay)

Navorsing van die internasionale marknavorsingsmaatskappy Victory Research wat Donderdag bekendgemaak is, toon ʼn duidelike toename in steun vir ʼn onafhanklike Wes-Kaap en dat die meeste Wes-Kapenaars nou ten gunste daarvan is.

Die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) is ‘n politieke drukgroep met die enkele doel om die vreedsame en demokratiese wegbreek van die Wes-Kaap van die Republiek van Suid-Afrika af te bevorder, om ’n onafhanklike soewereine staat – die Kaap van Goeie Hoop – te vorm.

’n Onlangse meningspeiling, uitgevoer deur Victory Research in Julie 2021, toon aan dat ’n duidelike meerderheid kiesers in hierdie provinsie (58%) nou ten gunste is van ’n referendum oor Kaapse Onafhanklikheid. Ondersteuning vir onafhanklikheid self is nou 46,2% van alle geregistreerde kiesers (met 49,6% daarteen en 4,2% onbeantwoord/besluiteloos). Ondersteuning onder kiesers het in die laaste jaar met 12,2% toegeneem, wat ʼn 35%-toename in ondersteuning verteenwoordig.
Die peiling bevestig die primêre faktore wat mense se mening beïnvloed:

  • 89% van die respondente glo Suid-Afrika beweeg in die verkeerde rigting
  • 33% het gesê hulle het emigrasie oorweeg as ’n alternatief tot Suid-Afrika se chaos en korrupsie
  • 73% glo dat die Wes-Kaap beter bestuur word as die res van Suid-Afrika
  • 59% van diegene wat ‘n voorkeur uitgespreek het, het geglo hul lewens sal in ‘n onafhanklike Kaap verbeter, en 75% het hul steun vir nie-rassigheid bevestig
  • 76% glo die provinsie moet meer beheer oor sy eie beleide hê
  • 62% wil minder regeringsinmenging in die ekonomie en die privatisering van sleuteldienste hê
  • Respondente het verbeterings in indiensneming, onderwys, gesondheid en misdaadvoorkoming as die belangrikste motiverings vir Kaapse Onafhanklikheid geïdentifiseer.

“Dié peiling plaas intense druk op die Wes-Kaap se regerende party, die Demokratiese Alliansie (DA), om ‘n referendum oor Kaapse onafhanklikheid uit te roep,” sê Phil Craig, woordvoerder vir die CIAG. “Nie net ondersteun 65% van hul eie kiesers ’n referendum nie, 19% van hulle het verder aangedui dat hulle dit sal oorweeg om vir ‘n ander party te stem indien die DA onafhanklikheid sou teenstaan. Sou hulle dit doen, sou die DA in ‘n koalisieregering met pro-onafhanklikheidspartye gedwing word, wat daartoe sou lei dat hulle in elk geval ‘n referendum oor onafhanklikheid sou moes roep.”

Volgens Craig bemagtig beide die Suid-Afrikaanse Grondwet (artikel 127(2)(f)) en die Wes-Kaapse grondwet (artikel 37(2)(f)) die premier van die Wes-Kaap om provinsiale referendums te roep. Die Wet op referendums is egter nooit gewysig om voorsiening te maak vir hierdie grondwetlike reg nie. Die DA het in Junie 2021 aangekondig dat hulle ’n privaatlid-wetsontwerp gaan voorlê om hierdie regsdefek reg te stel.

“Die regerende African National Congress (ANC) is tot dusver baie stil oor Kaapse onafhanklikheid. Hulle steun in die provinsie, waar hulle baie onpopulêr is, het skerp gedaal. Kommerwekkend het 45% van ANC-kiesers in die peiling aangedui dat hulle glo Suid-Afrika behoort nie gelyk aan alle rasse nie, maar dat etniese minderhede gaste in die land is en dienooreenkomstig moet optree. Dit is teenstrydig met die grondbeginsels van die Suid-Afrikaanse Grondwet wat nie-rassigheid insluit, en wat spesifiek stel dat Suid-Afrika aan almal behoort wat hier woon,” voeg Craig by.

Die CIAG glo dat die data in hierdie peiling uiters betekenisvol is en ’n waterskeidingsoomblik vir die Wes-Kaap is. Craig sê die uitkomste en die gevolglike implikasies daarvan sal nou met die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die Suid-Afrikaanse president, Cyril Ramaphosa, bespreek word.

Die CIAG is van voornemens om ʼn Kaapse Grondwetkommissie aan te stel. Die kommissie sal bestaan uit grondwetkenners, van beide Suid-Afrika en internasionaal, wat ondersoek sal instel en rapporteer oor die verskeie moontlikhede na groter provinsiale outonomiteit, van federalisme tot onafhanklikheid. “Verskeie hoogaangeskrewe vakkundiges het reeds ingestem om op hierdie kommissie te dien. Hulle sal hul ook bearbei vir die deelnemingsproses om politieke partye, die publiek en die onafhanklikheidsbeweging in te sluit,” voeg Craig by.

“Gegewe die verslegtende ekonomiese en politieke omstandighede in Suid-Afrika, is dit krities belangrik om sterk te staan en op ’n beter toekoms aan te dring. Die ANC is by ‘n kruispad. Hulle kan die voorbeeld van die Britse regering volg wat Skotland toegelaat het om ‘n referendum oor onafhanklikheid te hou en in te stem om die uitkoms te eerbiedig. Of die ANC kan die demokratiese wil van die mense van die Wes-Kaap ontken, en finaal hulle kanse op enige vooruitsig om meer stemme te wen, vernietig.”

Intussen het dr. Corné Mulder, provinsiale leier van die VF Plus in die Wes-Kaap, gesê sy party verwelkom ook die uitslag van die meningspeiling. “Dit toon dat die groei ter ondersteuning van ʼn referendum oor onafhanklikheid beduidend toegeneem met ʼn sterk 11,4% sedert ʼn soortgelyke vorige peiling wat in 2020 gedoen is. Dit beteken voorts dat 58% van die inwoners in die Wes-Kaap nou ten gunste van ʼn referendum is.”

Mulder sê die uitslag maak dit baie duidelik dat die aandrang om selfbeskikking en vryheid vir die Wes-Kaap ʼn al hoe sterker groeiende werklikheid word. “Die VF Plus sal van sy kant alles in die stryd werp om op politieke gebied die leiding te neem om hierdie ideaal te verwesenlik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

26 Kommentare

JohanCzu ·

Nee wat, droom maar aan. Doen die regte ding as jou en jou gesin se toekoms vir jou belangrik is en pak daai tassies. Emigrasie is die enigste werkbare langtermynoplossing.

VaalDonkie ·

Ja en as jou nuwe land vir jou se jy is te vet of jou visum word nie weer toegestaan nie en jy moet terugkom?

Classic ·

Ja nee ek stem of bring terug die Union Jack. Ten minste sal ons onderworpe wees aan eerste wereld beginsels, leierskap, kultuur, ekonomiese vooruitgang en deursigtigheid en ‘n land wat deur bedrewe persone bestuur word wat oor die nodige insig, ervaring en kundigheid beskik en die land weer op koers bring wat terselfdertyd ons aansien verhoog.

Adriana ·

Wil so graag terug gaan na my roots, wil so graag in die Kaap gaan bly, my familie is almal daar, Mosselbaai of Paarl, maar die huise is so duur daar, hul cater net vir die super rykes, ons gewone salaristrekkers kan nie daar huise bekostig nie. So ek sal maar moet in Gauteng bly en maar pendel tussen die 2 provinsies

Dirk Mostert ·

Probeer die platteland. Daar is wel bekostigbare huise. Het Sondag o.a. na Calitzdorp se eiendom gekyk. Die Klein Karoo is skaars ‘n uur van die see af.

VaalDonkie ·

Gaan bly in Worcester. Lekker groot dorp met goeie huispryse. En lekker naby al die lekker wynplase.

Dirk Mostert ·

Ek hoop gebore Kapenaars sal in ‘n referendum kan stem. Toevallig het Anton Goosen se liedjie gister deur my kop gedraai: “Nou is die Kaap weer Hollands. Dis die Bataafse vlag wat waai. Nou is die Kaap weer Hollands. Van uit die Kaap tot Algoabaai”

Charl ·

Kaap o Kaap, mooiste Kaap sing ons liedjieboer Anton Goosen, ja ek sal self enige dag teruggaan, rustiger mense as hier in die Transvaal ( Pretoria).

Kerneels ·

Jip, die kaap is mooi, maar die bosveld issi vi sussies nie!

Kanjynoumeer ·

Ek sal baie graag wil hê dat Flip Buys, Die pad na Selfbestuur Anderkant die mislukking van staatsbestuur n artikel sal plaas om sy siening van n Onafhanklike Wes Kaap te kry versus Selfbestuur.
Dit sal goed wees om meer hiervan te verneem van n kundige soos Flip Buys.

john ·

eenig iets is beter dan onder die ANC of EFF te lewe so ja vir onafhanklikheid

Peach ·

Ek ondersteun die idee maar, die DA is vir die Wes Kaap wat die ANC is vir die res vd land….. this is a pipe dream. Gaan dit ‘n een party staat word of, wat gebeur wanneer die ANC die verkiesing na “onafhanklikheid wên….. skakel ons dan weer in by die res vd land en sy geite?

Harley Davidson ·

Mense moet nie so pessimisties wees nie dit is nou om te sê “ek sit in ‘n tronk dit is baie sleg hier ,ek kan vry wees en buite toe gaan maar wat as ‘n slang my buite byt” nou gaan ek maar vir altyd in hierdie slegte tronk bly.

Kneh Mokenah ·

Dit is wat ons nodig het, ek eis egter net aan die gedagte dat die WP dan ons nasionale rugbyspan gaan wees.

Kanjynoumeer ·

In Afrika trek Westerlinge saam in stede, en leef daar steeds volgens hul Westerse kultuur en geriewe. Hulle bedryf dit deur die privaat sektor.

Anoniem ·

Nie moontlik teen die tempo waarteen Oos-Kapenaars weekliks na die Wes-Kaap stroom nie. Hulle word nie om dowe neute hier “geplant” nie. Die DA gaan sukkel om in die volgende algemene verkiesing aan bewind te bly. Die inkommers gaan hulle uitstem en dan is dit hier ook nag. Indien hulle wil slaag, moet dit spoedig moet gebeur, want die getalle neem vinnig toe.

Kanjynoumeer ·

Dus is die weste van die la d demogragrafies en geografies bepaald n belangrike deel van die langtermynoplossjng vir Afrikaners wat gli dat n gevorderde vlak van vryheid nodig is om volhoubaar in Suid-Afrija te kan voorbestaan. Vir Afrikaners wat selfbestuur bo staarsbestuur verkies, is dit die gebied waar hulle n betekenisvolle demografiese meerderheid kan word en bly, hoe moeilkk dit ookal mag wees.

JohanR ·

Oe dit sal lekker wees as die ANC uit die Kaap ge #Voertsak het!

Catherina ·

Dink hoe baie mense sal dan nie emigreer nie. We can but dream!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.