Masels steeds aan’t versprei

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Meer as 200 gevalle masels is tussen Oktober en Desember in Suid-Afrika aangemeld.

Altesaam 216 laboratorium-bevestigde gevalle is tussen 8 Oktober en 17 Desember in vyf provinsies met ʼn verklaarde maselsuitbreking aangemeld. Dit sluit in 110 gevalle in Limpopo, 64 gevalle in Mpumalanga, 27 gevalle in Noordwes, tien gevalle in Gauteng en vyf gevalle in die Vrystaat.

Altesaam 22 (38%) van die 216 pasiënte is teen masels ingeënt.

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê die ouderdom van dié pasiënte wissel van twee maande tot 42 jaar. Die meerderheid van die pasiënte (43%) is tussen vyf en nege jaar oud terwyl 30% van die gevalle in die ouderdomsgroep van een- tot vierjariges val.

Sowat 14% van die pasiënte is tussen tien en 14  jaar.

Limpopo blyk in die stadium die ergste geraak te word sedert ʼn uitbreking van masels op 11 Oktober in dié provinsie verklaar is.

Die meerderheid van Limpopo se gevalle is in die Groter-Sekhukhune-, Mopani- en Waterberg-distrik aangemeld.

Masels word deur die rubella-virus veroorsaak en pasiënte wat die virus opdoen, toon een of meer van die volgende simptome: hoes, rooi oë en loopneus, en ʼn uitslag op die vel. Persone van enige ouderdom wat nie ingeënt is nie, kan masels opdoen.

Komplikasies van masels sluit in longontsteking, diarree, dehidrasie, enkefalitis, blindheid en selfs die dood. Komplikasies kom veral voor by ondervoede kinders en babas jonger as twee jaar oud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.