Massaskietery in SA ‘buite beheer’

(Argieffoto)

Altesame 12 mense is sedert Donderdag dood in voorvalle van massaskietery en nog 11 mense moes weens ernstige skietwonde gehospitaliseer word.

Die UDM sê as die talle “massaslagtings” wat verlede jaar plaasgevind het in ag neem word, “sal ʼn mens gou besef dat hierdie massaskietvoorvalle nie geïsoleerd is nie”.

ʼn Massaskietery by die Imizamo Yethu-township in Houtbaai in die Kaapse Skiereiland het Donderdag die lewe van sewe mense geëis. Nog drie moes weens skietwonde in die hospitaal opgeneem word.

Volgens die polisie het ʼn groep gewapende mans ʼn huis in Molokoanestraat binnegegaan en op die inwoners sowel as ʼn voertuig wat buite geparkeer was losgebrand.

Vyf volwasse mans, tussen die ouderdom van 20 en 45 jaar oud, is op die toneel dood en nog vyf is ernstig in die skietery beseer. Twee van die beseerdes is egter intussen in die hospitaal dood.

Nóg ʼn skietvoorval Donderdagaand het die lewe van vyf mense by die Uganda- informele nedersetting in Umlazi, KwaZulu-Natal, geëis.

ʼn Groep vriende het glo in ʼn hut saamgekuier toe minstens ses verdagtes op hulle afgestorm het en hul selfone geëis het.

Die slagoffers het na bewering geweier om hul selfone aan die verdagtes te oorhandig, waarna een van die verdagtes ʼn vuurwapen uitgeruk en op die mans begin skiet het. Vier van die mans is op slag dood.

Die verdagtes het na bewering daarna nog ʼn man wat van ʼn puttoilet na die hut aangestap gekom het doodgeskiet, nadat hy glo ook geweier het om sy selfoon aan hulle te oorhandig.

Maroela Media het vroeër berig ʼn onderonsie by ʼn plaaslike taverne in Manyatseng in Ladybrand in die Vrystaat het Vrydag tot die hospitalisering van agt mense gelei nadat ʼn man lukraak op kliënte losgebrand het.

Volgens Yongama Zigebe, nasionale sekretaris-generaal van die UDM, het Suid-Afrika die afgelope paar jaar ʼn misdaadtoneel geword waaraan daar min gedoen word om misdadigers, wat al hoe meer gewelddadig raak, voor die hof te bring.

“Gebiede soos Zwide, New Brighton, Motherwell en die noordelike gebiede van Nelson Mandelabaai; die Kaapse Vlakte, Khayelitsha, Nyanga, Delft en ander gebiede in Kaapstad; die middestad van Johannesburg asookTembisa, Alexandra en die middestad van Durban word deur misdadigers geteister.

“Ons wetstoepassingsagentskappe moet hierdie voorvalle aktief ondersoek en, selfs belangriker, die oorsake daarvan ondersoek.

“Daarbenewens moet bykomende hulpbronne ontplooi word om geregtigheid te verseker om sodoende verdere aanhitsing van hierdie soort misdade te voorkom,” sê Zigebe.

“Die UDM doen ʼn beroep op enigiemand met inligting om na vore te kom en te help om die misdadigers wat vir hierdie grusame moorde verantwoordelik is, voor die gereg te bring.”

Die UDM het sy meegevoel betuig met die families wat deur “hierdie sinnelose dade van geweld” geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.