Verdagte vas ná massaskietery in taverne

(Foto: Larry Valenzuela/The Fresno Bee via AP)

ʼn Onderonsie by ʼn plaaslike taverne in Manyatseng in Ladybrand in die Vrystaat het Vrydag tot die hospitalisering van agt mense gelei nadat ʼn man lukraak op kliënte losgebrand het.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, sê die polisie in Ladybrand het omstreeks 19:45 die oproep oor die massaskietery ontvang.

“Daar word beweer dat die man in ʼn argument met een van die kliënte in die taverne betrokke geraak het. Die man het glo daarna sy 9 mm-pistool by sy huis in Manyatseng gaan haal en na die taverne teruggekeer.

“By sy terugkoms by die taverne het hy skielik op die kliënte losgebrand. Altesame agt slagoffers is gewond.”

Kareli sê die slagoffers – tussen die ouderdom van 26 en 45 jaar oud  – het almal ernstige beserings opgedoen en twee is in ʼn kritieke toestand.

“Die 36-jarige verdagte is etlike oomblikke later by sy ouerhuis in Manyatseng opgespoor en in hegtenis geneem. Hy word nou deur agt aanklagte van poging tot moord in die gesig gestaar en die polisie het op sy vuurwapen beslag gelê.”

Ondersoeke is tans aan die gang om die presiese ouderdom en identiteit van die slagoffers te bepaal.

Die verdagte sal binnekort in die Ladybrand-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.