Matjiesfontein verloor ʼn legende

Johnny Theunissen, bekende op Matjiesfontein. (Foto: Facebook/The Lord Milner-hotel)

Johnny Theunissen, ʼn vermaaklikheidster en toergids op Matjiesfontein in die Karoo, het Sondag sy stryd teen kanker verloor.

Enige toeris wat al deur Matjiesfontein gereis het, het waarskynlik al ʼn geselsie aangeknoop met Johnny, wat die afgelope 35 jaar ʼn bekende gesig en geliefde persoonlikheid by die Lord Milner-hotel was.

Johnny, alombekend as die “Entertainer van Matjiesfontein”, se afsterwe is op Facebook deur die hotel bevestig.

“Dit is met ʼn swaar hart dat ons die nuus deel dat die Matjiesfontein-legende, Johnny Theunissen, sy stryd teen kanker verloor het ná ʼn kort tyd in die hospitaal.

“Johnny het die Matjiesfontein-gemeenskap vir langer as 35 jaar gedien en sal onthou word vir sy liefde vir mense.”

Talle huldeblyke van kollegas, vriende en lede van die publiek wat al met Johnny kennis gemaak het, het intussen op sosiale media begin instroom.

“Rus in vrede, Johnny. Jy is ʼn legende en Matjiesfontein sal nooit weer dieselfde wees sonder jou en jou kennis en kwinkslae nie. Duisende toeriste wat deur die deure van jou lewe geloop het, gaan jou net soveel mis soos jou geliefdes … Jy laat ʼn groot leemte,” skryf Riana Steyn Botha op Facebook.

“Wat ʼn geweldige verlies vir ons almal,” skryf Andrew Bramley op Facebook.

“Hy is die ‘Entertainer van Matjiesfontein’ genoem, maar hy was meer as dit. Sy eindelose vreugde, humor en liefde vir almal wat hy ontmoet het, sal altyd deel wees van ons lewe, en vir baie mense wie se lewe hy aangeraak het. Mag jy in vrede rus, Johnny. Niemand sal ooit met jou stem sing nie.”

Die Touwsrivier Toerismevereniging het ook ʼn boodskap vir Johnny se familie op Facebook geskryf.

“Ons diepste meegevoel aan die familie en vriende van die geliefde Matjiesfontein-legende, John Theunissen (Johnny). Mag julle gelukkige herinneringe vrede en vertroosting bied in die uitdagende tyd.”

Posted by Riana Steyn Botha on Monday, March 4, 2024

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Andries ·

Ai dis nou hartseer!! My laaitie het op sy skoot gesit terwyl hy vir almal klavier gespeel het.
Ons moes vervolgens elke keer eers daar ‘n draai maak op ons Kaapse draaie.
Rus in vrede ou Johnny!!

Casper ·

Ek het ou Johny nie geken nie maar ek het na die video gekyk en hy was op sy gelukkigste voor die klavier,en ek weet hy het gelukkig gesterf tenspyte van pyn gedurende sy stryd teen Kanter.Nou kan hy in die hemel sy Engelskare vermaak met sy klavier kunsies.Rus in vrede Johny.

Onnie ·

As kind het ons het op Touwsrivier gebly en op Sondae skons en tee geniet by Lord Milner. Die skons was nie van die beste nie, maar Johnny het opgemaak daar voor met sy grappies en geselsies. Sal hom altyd onthou!

Aai ·

Rus in vrede ou groote soos hy altyd gese het ek is hier gemaak,gebore en tot sterwe gekom by die plek waar hy altyd gelukkig was.RIV

Annelien ·

Wat n verlies. Hy was absoluut die gees van die Hotel, veral die bar en niks moeite was vir hom te veel nie. Rus in Vrede.

Bolandse Nooi ·

Uncle Jônnie het altyd gesêg: “Op Matjiesfontein is ek gemaak, geborene, hier sil ek doodgaat”. RIP, Uncle Jônnie, jou plek sal nou leeg staan, die klavier is stil geraak.

KaRoOkWaGgA ·

Matjiesfontein sonder Oom Johnny is soos Kaapstad sonder Tafelberg. Dit voel en lyk net nie reg nie.

Annali ·

Ek was ongeveer 6 jaar gelede daar en hy het n baie groot indruk op my en my gesin gemaak – hy was sinoniem met Matjiesfontein en doen die woord ‘legende’ gestand. RIV

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.