Matriekseun sterf toe motor boom tref

(Foto: Facebook/Hoër Volkskool Heidelberg)

Twee jong vriende wat pas hul matriekjaar aan Hoër Volkskool Heidelberg voltooi het, was besig om hul nuutgevonde vryheid te geniet toe die voertuig waarin hulle gery het teen ʼn boom gebots het. ʼn 18-jarige seun, Jeandré Kleynhans, is op die toneel dood verklaar en die bestuurder van die voertuig, sy vriend (ook 18 jaar oud), is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem.

Elzona Els, stigterslid en algemene spanleier van Heidelberg Volunteer Medics and First Responders, sê vrywilligers het omstreeks 03:30 op die voorval gereageer nadat hulle verskeie noodoproepe ontvang het. Hulle het dadelik ander nooddienste ook na die toneel ontbied.

“Die insleepdienste was heel eerste op die toneel. Ons was kort ná hulle daar en die brandweerdienste ook.

“Ons is absoluut verpletter oor die ontydige dood van die jong man en die hospitalisering van sy vriend wat onder meer albei sy polsgewrigte gekraak het.”

Jeandré Kleynhans (Foto: Facebook/Proudly Heidelberg)

Els sê die twee seuns het doodeenvoudig net in die boom vasgery en dat “spoed maar ʼn faktor was”.

“Die pad waarmee die seuns gery het loop dood in ʼn parkie. Hulle het reguit in ʼn boom vasgery.

“Dit is absoluut tragies. Dit is maar tipies wat jong seuns doen wat skool klaargemaak het, hulle het net die vryheid van jonk wees geniet. Dit is jammer dat dit in hierdie tragedie ontaard het.

“Ons innige meegevoel gaan aan alle families en vriende wat betrokke is,” sê Els.

Hoër Volkskool in Heidelberg het ook in ʼn plasing op Facebook sy medelye met die bedroefde families betuig.

“Dit is met groot hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van Jeandré Kleynhans, gr. 12, vanoggend. Ons innige simpatie aan die familie.”

Maroela Media het navrae aan die provinsiale en plaaslike polisie gerig, maar nog nie terugvoer ontvang nie.

30 December 202303:30Volunteers responded to assist and called GPG and Lesedi Fire to a serious accident in Rensburg…

Posted by Heidelberg Volunteer Medics and First Responders on Saturday, December 30, 2023

Dit is met groot hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van Jeandre Kleynhans, gr. 12, vanoggend. Ons innige simpatie aan die familie.

Posted by Hoër Volkskool Heidelberg on Saturday, December 30, 2023

GRU-BOTSING EIS JONG LEWETwee jong mans wat pas hul matriekjaar aan Hoër Volkskool Heidelberg voltooi het, was…

Posted by Proudly Heidelberg on Saturday, December 30, 2023

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.