Maya as nuwe hoofregter aanbeveel

Mandisa Maya (Foto: RSAJudiciary/Twitter)

Mandisa Maya, regterpresident van die appèlhof, is deur die Regterlike Dienskommissie (RDK) as Suid-Afrika se nuwe hoofregter aanbeveel.

Die RDK se aanbeveling sal nou aan pres. Cyril Ramaphosa vir ’n finale besluit voorgelê word.

Die RDK het die afgelope week onderhoude met Maya asook Mbuyiseli Madlanga, regter van die Konstitusionele Hof, Dunston Mlambo, regterpresident van Gauteng, en adjunkhoofregter Raymond Zondo gevoer vir dié amp waarna Maya aanbeveel is.

Indien Maya aangestel word, sal sy Suid-Afrika se eerste vrouehoofregter wees.

Mogoeng Mogoeng het vir tien jaar die land as hoofregter gedien voordat hy in Oktober die tuig neergelê het.

Ramaphosa het in September versoek dat geskikte kandidate benoem word vir dié belangrike pos as hoof van die regstelsel van Suid-Afrika. Die benoemingsproses het op 1 Oktober gesluit waarna ʼn kortlys van agt persone bekend gemaak is.

Suid-Afrikaners het tot 15 Oktober kans gehad om geskrewe beswaar aan te teken teen enige van die kandidate wat benoem is.

Daar was aanvanklik kommer uitgespreek oor die lys van kandidate vir die nuwe hoofregter nadat die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe, en die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, op die kortlys ingesluit is.

Hlophe kan dalk binnekort in ʼn staat van beskuldiging geplaas word nadat die RDK hom aan growwe wangedrag skuldig bevind het. Dít terwyl Mkhwebane se geskiktheid as OB steeds deur die parlement ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

SjN ·

Hoekom nog geld mors met onderhoude as daar vooraf besluit is dat n vrou in die POS moet wees en sommige korrupte lede van die paneel? Hul kan nie eens vir hul self n ingeligte besluit neem nie, Dis hoekom die eens pragtige land Rommel status kry.

Swerwer ·

O genade, wat lê nog vir die regstelsel voor waar kommunisme reeds seevier.

Marcello ·

As sy aangestel word, is dit ‘n oorwinning vir vroue in die Regsberoep, want daar word maar baie gediskrimineer teen vroue in die beroep. So “GO GIRL”, wys vir die mense in die land, ‘n vrou is ook geskik vir so pos.

Hannes ·

Ek stem saam dat Vroue n regmatige plek in die Regsberoep het en ook respek verdien.
Die vraag is egter, is VROUWEES die belangrikste kwaliteit om vir posted re kwalifiseer, nie bevoegtheid en integriteit nie?.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.