Mazda SA staak invoere van BT-50

Die bakkie het sy debuut in 2008 gemaak, en het Mazda se vorige suksesvolle B-reeks ligtehandelsvoertuie vervang, maar in Suid-Afrika het die BT-50 gemengde verkoopresultate behaal. (Foto: Verskaf)

Mazda Suid-Afrika staak sy produksie en invoer van die Mazda BT-50-dubbelkajuitbakkie vir die Suid-Afrikaanse mark.

Die bakkie het sy debuut in 2008 gemaak, en het Mazda se vorige suksesvolle B-reeks ligtehandelsvoertuie vervang, maar in Suid-Afrika het die BT-50 gemengde verkoopresultate behaal.

Die BT-50 is oorspronklik in vennootskap met Ford in Suid-Afrika by die aanleg in Silverton vervaardig.

Die huidige weergawe – wat in 2021 bekend gestel is – is in vennootskap met Isuzu in Thailand vervaardig. Mazda sê egter dié bakkie het nie noemenswaardige aftrek gekry nie, veral nie in Suid-Afrika met sy geweldige mededingende dubbelkajuitmark nie. Dit was veral die geval wanneer die voertuie met handelsmerke wat plaaslik vervaardig word, vergelyk is.

“Die Suid-Afrikaanse ligtehandelsvoertuig-segment, en veral die dubbelkajuitmark, is uiters goed ontwikkel en mededingend met plaaslik vervaardigde handelsmerke en name wat verkope oorheers. Hierdie faktor, asook die geweldig uitdagende omgewing vir ingevoerde voertuie, ding regstreeks mee met plaaslik vervaardigde produkte wat Mazda genoop het om hierdie moeilike besluit te neem,” sê Craig Roberts, besturende direkteur Mazda SA.

(Argieffoto: Mazda)

Weens die beperkte aantal bakkies wat aanvanklik na Suid-Afrika ingevoer is, is die maatskappy slegs een opsie gebied wat die vering daarvan betref. Maroela Media het destyds, met die bekendstelling van die bakkie, berig dié opsie was ongelukkig die swaardiensvering – hopeloos te styf vir die leefstylsegment waarin die BT-50 moes meeding.

Die voorraad wat tans by handelaars op die verkoopvloer staan, sal die laaste BT-50’s vir verkoop wees. Mazda SA gaan voortaan egter geen verdere van die bakkies na Suid-Afrika invoer nie.

Mazda het die versekering gegee dat sy netwerk van 42 handelaars landwyd steeds die waarborg en diensplan van die bakkies sal nakom.

“Net soos wanneer die voorraad van enige ander spesifieke model klaarmaak, sal Mazda SA voortgaan om die BT-50 met alle dienste, herstelwerk en onderdele te ondersteun.”

Mazda Corporation gaan intussen steeds voort om die BT-50 as deel van sy vennootskap met Isuzu vir ander wêreldmarkte te vervaardig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

koos10 ·

Ek is verras deur te sien dat Mazda net 42 handelaars in die land het. Dit verduidelik aan my hulle lae verkoopsyfer, ten spyte daarvan dat hulle baie goeie voertuie maak. In hierdie segment moet hulle met Ford en Toyota meeding, en hulle gebrek aan model keuses kos hulle duur.

JohanR ·

Ek hou baie van die Mazda Cx30. Nou moet ek net die geld bymekaar kry!

Perdeby ·

Koos10 ongelukkig maak die handelaar op strepe toe. Ek is self in die handel by nuwe voertuie en n bekende en betroubare bakkie. Ons trek bitter bitter swaar . Mazda bakkies verkoop maar so 50 nuwe bakkie n maand. Nie naby die 3 ander brands nie. NP 200 is nog net tot 31 Mrt beskikbaar. N Bekende groep gaan binne die volgende paar maande n klomp takke sluit.

Danie ·

50 is baie, ek dog dis 5.
En dit terwyl die skreeulelike chinese goed al meer aftrek kry.

Perdeby ·

Koos 10 hulle was nog naastenby enge kompitiese vir Toyota Ford of Isuzu gewees nie. Hierdie brands verkoop elk tussen 2000 en 4000 units per maand. Mazda is gelukkig as hulle 50 verkoop.

Papsak ·

Ja net jammer mooi bakkies maar pryse simpel het nie daai soort geld nie laat die wat geld het hom maar koop pryse te hoog !!!??

Aai ·

China vat die mark oor en van hulle voertuie is mooi maar nie betroubaar hulle hou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.