
Richard Mdluli, die voormalige hoof van misdaadintelligensie van die polisie, tydens Vrydag se hofverskyning. (Foto: NVG/OD-kommunikasie)
Richard Mdluli, die polisie se voormalige hoof van misdaadintelligensie, het Vrydag eindelik in die hooggeregshof in Pretoria verskyn nadat hy reeds vier keer tevore nie vir die verhoor opgedaag het nie.
Regter Bert Bam het ʼn lasbrief vir sy inhegtenisneming uitgereik nadat Mdluli die derde keer versuim het om aan te meld.
Mdluli en medebeskuldigdes Heine Barnard en Solomon Lazarus staan tereg op aanklagte van bedrog, korrupsie en diefstal wat met die plundery van die polisie se geheime geldfonds verband hou.
Lazarus is die voormalige finansiële hoof by die misdaadintelligensie-eenheid en Barnard is ʼn voormalige verkrygingsbestuurder.
Sindisiwe Twala, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat (OD) van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die bewerings teen die drie sluit in dat daar uit die fonds betaal is vir private reise na China en Singapoer, dat hulle huise vir die getuiebeskermingsprogram vir private gebruik aangewend het, dat een van dié huise vir persoonlike gebruik omgeskakel is en dat Mdluli se private woning aan die staat uitverhuur is sodat hy die verband daarop kon betaal.
Twala sê Mdluli se versuim om tevore in die hof te verskyn, het beteken dat die saak teen Barnard en Lazarus tot 18 Junie vir ʼn voorverhoorvergadering uitgestel is, terwyl Mdluli weer op 6 April in die hof sal verskyn.
Die OD het ook ʼn aansoek ingedien waarin hy die hof vra om te beveel dat Mdluli nie enige verdere vertragings in die saak mag veroorsaak nie sodat hy later vanjaar saam met sy medebeskuldigdes verhoor kan word.
Mdluli het deur sy regspan al herhaaldelik aangedui dat hy gaan vra dat die staat vir sy regskoste betaal omdat die klagtes teen hom verband hou met sy werk in diens van die polisie.
Betoë hieroor word op 6 April aangehoor, waarna die saak tot Junie uitgestel gaan word, sê Twala.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
15 Kommentare
lekker………………….Vat So.
Arrogansie het geen keer.
Om skelm te wees was nou deel van sy pligte! Goeie genade!! Nou hoop ek hulle wil nou vir zuma ook toesluit vir minagting. Wat vir die een geld, geld mos vir almal.
Die berig noem nie of hy dan met parool uit is nie of word hy aangehou tot 6 April? Dis mos wat parool eintlik is…. jy beloof om daai datum weer voor hof te verskyn, indien nie, verbeur jy parool en bly in aanhouding tot die hofsaak. Hy (ja asook Zuma) moes dan mos na die 1ste verhoor en hy nie opgedaag het nie, sy parool verbeur het en opgesluit te word. Dalk verstaan ek die regstelsel nog al die jare verkeerd????
Misky,dit word BORG genoem nie parool nie.