Medelye stroom in oor LUR Tate Makgoe se afsterwe

Tate Makgoe (2015) (Foto: GCIS)

Medelye stroom in oor Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, se afsterwe.

Maroela Media het vroeër berig Makgoe en sy lyfwag is Sondagoggend omstreeks 01:30 op die N1 buite Winburg oorlede toe hul motor teen twee beeste gebots het.

Pule Herbert Isak Makgoe, bekend as Tate Makgoe, is op 12 Mei 1963 in Tumahole, Parys in die Vrystaat gebore. Hy was ʼn lid van die ANC. Hy het sedert Mei 2009 as Vrystaatse LUR vir onderwys gedien. Hy is in Mei 1994 as lid van die Vrystaatse wetgewer beëdig.

Hy het in verskillende posisies van die uitvoerende raad gedien, insluitend twee keer as LUR van finansies, as LUR vir toerisme en omgewingsake, as LUR vir landbou, en as die LUR vir openbare veiligheid, sekuriteit en samewerking. Hy was die wetgewer se voorsitter van voorsitters tussen 2001 en 2004.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het haar skok uitgespreek oor die nuus. “Toe ek as minister aangestel is, is hy aangestel as LUR in die Vrystaat en hy was sedertdien in dié amp. Die sukses van die provinsie in onderwys kan aan sy leierskap, toewyding en begrip van die bedryf toegeskryf word. Ek is baie hartseer.”

Sy het haar meegevoel betuig met sy familie, vriende, kollegas en ander belanghebbendes wat saam met dr. Makgoe gewerk het.

Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaatse wetgewer, het sy meegevoel betuig met Makgoe se familie en vriende, asook die familie, vriende en kollegas van die lid van die beskermingsdiens wat saam met hom oorlede is.

Makgoe was die laaste van die oorspronklike 1994 ononderbroke LP’s in die Vrystaat. “Hy het bykans drie dekades lank in talle portefeuljes gedien en was ook die voorsitter van voorsitters in die wetgewer. Hy sal onthou word vir sy skerp sin van humor en as ʼn ywerige deelnemer in debatte in die wetgewer, asook sy respek vir dekorum in die wetgewer.”

Sy laaste debat in die wetgewer was Vrydag tydens die debat oor die provinsiale rede waar hy met trots die uitslae van die matriekresultate in die Vrystaat bespreek het.

“Dit is ʼn verlies van institusionele kennis en jarelange ervaring in die Vrystaatse uitvoerende komitee,” het Jankielsohn bygevoeg.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het ook sy meegevoel betuig. “Hy het seker gemaak dat die Vrystaat die beste matrikulantuitslae behaal vir vier agtereenvolgende jare. Hy was die toonbeeld van uitnemendheid vir ons land se staatskoolstelsel.”

Patricia Kopane, provinsiale voorsitter vir Action SA, het ook haar meegevoel betuig met Makgoe se familie, vriende en kolleegas en die ANC. “Ons dink aan julle in hierdie hartseer tyd.”

Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys, het ook haar skok uitgespreek oor Makgoe onverwagse afsterwe. “Hy was ʼn toegewyde en bekwame leier wat hard gewerk het om seker te maak die stelsel werk doeltreffend tot voordeel van die land.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.