Meer as 3 000 laat aansoeke vir WK-skole ontvang

(Argieffoto: Unsplash)

Die Wes-Kaapse regering sê sy harde werk om leerders vir die nuwe skooljaar te plaas, word gepootjie deur duisende uiters laat aansoeke om plek in gr. 1 of gr. 8, asook beperkte fondse om nuwe skole te bou.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys sê hy werp sedert verlede jaar  alles in die stryd om leerders in skole te plaas en om uitgebreide infrastruktuurprogramme te voltooi om bykomende plekke vir leerders te skep.

Sedert die begin van die jaar het die departement egter 3 579 nuwe aansoeke vir gr. 1- en gr. 8-leerders ontvang wat in die Wes-Kaap wil skoolgaan. Die departement doen tans ʼn behoeftebepaling om vas te stel hoe hy sy hulpbronne moet herlei.

Altesaam 124 808 – of 99,6% – van die gr. 1- en gr. 8-aansoeke vir plasing vir die 2024-skooljaar was teen Donderdag afgehandel. Die departement is tans besig om die oorblywende 529 leerders (0,4%) te plaas.

“Dit is belangrik om daarop te let dat die meerderheid van die gevalle waar plasings nog aan die gang is, weens uiters laat aansoeke is,” sê David Maynier, minister van onderwys in die Wes-Kaap.

Leerders wat betyds aansoek gedoen het, se plasings word tans geprioritiseer.

Altesaam 133 van die leerders wat nog geplaas moet word, se aansoeke is ná die verstryking van die sperdatum, maar voor 1 Januarie 2024 ontvang. Dié leerders sal na verwagting binnekort geplaas word.

“Ons is tans ook besig om 371 van die gr. 1- en gr. 8-leerders vir wie aansoeke uiters laat ontvang is, te plaas,” sê Maynier. “Hierdie laat aansoeke bied egter ʼn groot uitdaging, aangesien hulle daagliks in ʼn onvoorspelbare patroon aankom, dus jaag ons voortdurend ʼn bewegende teiken.”

Maynier sê dit gaan tyd neem om hulpbronne te herlei om vir hierdie leerders voorsiening te maak, maar dat dit tans aan die gang is.

“Ons amptenare en skole het ʼn fenomenale werk onder uiterste druk gedoen om seker te maak dat hulle ʼn plek vir elke kind kry.”

Begroting vir infrastruktuur ʼn probleem

David Maynier, minister van onderwys in die Wes-Kaap, sê die massiewe knou van R716,4 miljoen op die algehele begroting van die huidige finansiële jaar het op ʼn tyd gekom toe die provinsie die geld broodnodig gehad het om meer skole te bou en meer onderwysers in diens te neem.

“Net so skadelik was die onsekerheid wat geskep is deur die ineenstorting van die nasionale begrotingsproses, wat beteken het dat ons nie kontrakte kon aangaan of bouprojekte kon begin tot laat verlede jaar toe die aansuiweringsbegroting aangekondig is nie.

“Ten spyte van hierdie geweldige uitdagings was ons amptenare en kontrakteurs hard aan die werk om nuwe skole en bykomende klaskamers so gou moontlik te lewer,” sê Maynier.

Hy sê sy departement het tot dusver 255 bykomende klaskamers voltooi.

“Leerders loop reeds klas by splinternuwe skole in Belhar, Kwanokuthula, Fisherhaven, Saldanha, Houtbaai en Macassar. Nuwe klaskamers is ook by bestaande skole oor die hele provinsie gevoeg, waar die vraag na plasing die hoogste is.

“ʼn Verdere 317 klaskamers word tans by nuwe en bestaande skole gebou, met afleweringsdatums wat vanaf die einde van die maand begin.”

Sedert die departement ʼn interdik teen ontwrigtings by die konstruksieterrein van twee nuwe skole by die Blueridge-sportterrein verkry het, is bestendige vordering ook hier gemaak.

“Konstruksie van Laerskool Lwandle is ook weer op dreef, en ons hoop om agt klaskamers klaar te bou voor die tweede kwartaal begin.

“Ons waardeer die ongelooflike werk wat ons infrastruktuurspan, distriksbeamptes, skole en kontrakteurs in hierdie baie moeilike omstandighede doen. Baie van hulle het nie met vakansie gegaan nie om die voltooiing van klaskamers vir die nuwe jaar te versnel.”

  • Die berig se opskrif het oorspronklik gelui dat meer as 3000 leerders nog in die Wes-Kaap geplaas moes word. Dit is onakkuraat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kokerboom ·

My vraag is : Waarom word WesKaap altyd uitgesonder? Ni net op onderwysvlak?
Wat van ander 8 Provinsies?Weet hul nie wat aangaan in hul provinsies?
Laat aansoeke: Tyd nie ‘n faktor in Afrika. Praat nie eers van onbeheersde semigrasie van Ooskaap waar alles platval!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.