Meer as 900 dié naweek vas in Gauteng

Argieffoto Foto: SAPD, Facebook

Argieffoto: SAPD

Minstens 900 verdagtes is die afgelope naweek oor die hele Gauteng in hegtenis geneem vir misdade wat wissel van moord, brandstigting, kwaadwillige eiendomsbeskadiging en dronkbestuur tot die besit van dwelms.

Volgens kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, is die inhegtenisnemings oor Johannesburg, Pretoria, Sedibeng, Ekurhuleni asook die Wes-Rand onderskeidelik deur die polisie, metropolisie, Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), departement van binnelandse sake asook private sekuriteitsmaatskappye gemaak. Dié inhegtenisnemings is deel van ʼn gesamentlike operasie genaamd O Kae Molao om misdaad in die provinsie te bekamp, het Masondo gesê.

Gedurende die klopjagte is daar op meer as 19 onwettige vuurwapens asook gesteelde motors en dwelms oor die hele provinsie beslag gelê.

In een voorval is ʼn 16-jarige verdagte in Sophiatown in hegtenis geneem vir die moord op ʼn 14-jarige seun. ʼn Voorlopige ondersoek toon dat die tiener vermoedelik met ʼn vuurwapen wat vroeër vanjaar in Moffatview gesteel is, doodgeskiet is.

Twee verdagtes is weer op hul beurt in Diepsloot in Johannesburg in hegtenis geneem vir die besit van onwettige vuurwapens.

Volgens Masondo is altesaam 490 verdagtes in ander dele van die stad en Sedibeng vasgetrek vir verskeie ernstige en gewelddadige misdade terwyl vervalste goedere ter waarde van duisende rande hiér in beslag geneem is.

Meer as 350 verdagtes is in Pretoria en Ekurhuleni in hegtenis geneem met 50 in aanhouding geplaas wat geen dokumente gedurende klopjagte kon toon nie.

Altesaam 30 verdagtes is vir dwelmverwante misdade in hegtenis geneem terwyl 43 vasgetrek kon word wat reeds voorheen deur die polisie gesoek is.

Klopjagte aan die Wes-Rand het gelei tot inhegtenisnemings in Kagiso, Magalies en Westonaria. Meer as 120 verdagtes is hiér in hegtenis geneem vir misdade wat wissel van moord, brandstigting, die besit van onwettige vuurwapens, kwaadwillige eiendomsbeskadiging asook dronkbestuur.

Masondo het gesê operasie O Kae Molao sal volgens verwagting tot nog inhegtenisnemings oor die hele Gauteng lei om inwoners van dié provinsie se veiligheid te verseker.

Die verdagtes sal binnekort in verskeie landdroshowe verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sarel ·

Goed die Polisie het nou hulle werk gedoen. Gaan die NVG of is dit ( Nie Vervolging Gesag) en die Howe hulle werk doen

Jozi ·

Dis nou vir jou ‘n storie!
Wonder ek nou net…. waar op aarde word al hierdie mense gehuisves?
En tweedens…. is dit soos in rêrig of word die SAP se syfers gekook om hul statistieke beter te laat lyk?
Ek mag dalk verkeerd wees, maar meeste van hulle hou mos maar van rondsit en niks doen nie.

anton ·

Wow, hierdie klink amper te goed vir woorde te wees.
As die verkiesing nie reeds verby was nie sou ek gedink het daar is een op hande.
As hulle dit elke naweek kan doen sal ons binnekort n provinsie moet skep wat kan dien as n gevangenis om almal aan te hou!

SjN ·

Vandag kry almal borg , saak word uitgestel en hul verdwyn, saak opgelos.

Hendrik ferreira ·

Dit lyk of die sekuriteits maatskappye besig was.

humor ·

Die tronke is sekerlik al oorbevolk. Huisves hulle nou in die diepste skagte en ondergrondse kamers van uitgewerkte myne. Deur hardepad kan hul seker nog n bietjie goud delwe. Hulle mag net nooit weer son sien nie.

emily ·

Wonder hoeveel het bribes betaal en weggekom.
Ja nee die wat gevang is, sal beslis teen Woensdag weer uit wees op die strate.

ne ·

Goed gedoen SAP! Julle moet maar hoop die regstelsel werk die keer. Want daar is gewoonlik nie voldoende bewyse nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.