Meer as helfte van Dakar-voertuie in SA vervaardig

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Marcin Kin/Red Bull/AFP)

Die uitmergelende Dakar-wedren begin oor slegs drie weke en uit die 72 motors wat vir die wedren ingeskryf is, is meer as die helfte in Suid-Afrika vervaardig.

Altesame 38 voertuie, bestaande uit 23 Toyota Hilux-bakkies, 12 Centuries, drie Red-Lines, en twee Ford Rangers, is in Suid-Afrika gebou.

Hiermee saam sal 12 Suid-Afrikaners tydens die wedren óf bestuur óf navigeer, en ʼn hele leërskare Suid-Afrikaners sal na verwagting die wedren volg en ondersteun.

Die komende Dakar-wedren begin op 5 Januarie in Saoedi-Arabië. Altesame 354 spanne bestaande uit 72 motors, 137 motorfietse, 78 Challenger-voertuie en SSV’s, asook 46 vragmotors neem deel.

Organiseerders van die wedren sê al die voertuie sal op die dag regstaan om die 157 km‑voorwedren deur die Arabiese woestyn om die stad Al-Ula te begin.

Dít sal die wegspringvolgorde vir die volgende dag se 532 km na Al Henakiyah bepaal.

Nog 4 727 km se wedrenne sal in die daaropvolgende dae voltooi word en teen 19 Januarie sou die spanne altesaam 7 891 km afgelê het.

Die tweemalige kampioen, Toyota Gazoo Racing, het nie minder nie as vyf Suid-Afrikaanse Dakar Hilux’e ingeskryf, waarvan drie deur Suid-Afrikaners bestuur word en twee Suid-Afrikaanse navigators het.

Giniel de Villiers en Dennis Murphy is aan die stuur van dié span en word bygestaan ​​deur Guy Botterill en Brett Cummings, asook die nuweling Saood Variawa en Francois Cazalet. Hulle sal ondersteun word deur twee internasionale spanne wat die Brasiliërs Lucas Moraes en Armand Monleon, en die Amerikaners Seth Quintero en Dennis Zenz insluit.

Die res van die Toyota Hilux-span kom van regoor die wêreld. Onder hulle is nog ʼn Suid-Afrikaanse span wat 2018 se nuwelingwenner Hennie de Klerk insluit en Juan Möhr. Hul voertuig is ook in Suid-Afrika gebou.

Ford keer amptelik by volgende jaar se Dakar terug met ʼn paar voertuie wat in Pietermaritzburg gebou is. Een daarvan sal deur die Suid-Afrikaanse nuwelingspan Gareth Woolridge en Boyd Dreyer bestuur word, met die Spaanse Dakar-legende Nani Roma en Alex Haro Bravo aan boord van die tweede Ford Ranger.

Century Racing, wat in Johannesburg gesetel is, is ook weer terug met ʼn vierwielaangedrewe T1+-klas CR7-T wat deur die Suid-Afrikaanse span Brian Baragwanath en Leonard Cremer bestuur gaan word. Die Fransmanne Mathieu Serradori en Loic Minaudier gaan met hul agterwielaangedrewe CR6 -T die wedren aanpak.

Benewens die gewone motorwedrenne gaan nege “volgende generasie”-voertuie in die nuwe alternatiewe energie Dakar Mission 1000 meeding.

Die Mission 1000 maak voorsiening vir volle elektriese en hibriede motors, asook hidro-aangedrewe motors. Daar gaan tien 100 km-afdelings wees wat oor twee weke afgelê gaan word.

Die Dakar Classic-tydren maak weereens voorsiening vir 20ste eeuse Dakar-voertuie wat teen hul eie pas deur 3 586 km se tydgedeeltes jaag en ʼn totale afstand van 7 366 km aflê.

“Ons het seker gemaak dat hierdie Dakar in Saoedi-Arabië die moeilikste een is sedert ons na die Midde-Ooste gekom het,” het David Castera, rendirekteur, gewaarsku.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.