ʼn Vrou is gister by die OR Tambo Internasionale Lughawe vasgetrek nadat dwelms ter waarde van R1,2 miljoen in haar besit gevind is.
Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die 42-jarige vrou het vanaf Sao Paulo in Suid-Afrika aangekom. Doeanepersoneel wat roetine-kontrole uitvoer, het meer as vier kilogram dwelms, vermoedelik kokaïen, in die vrou se bagasie gevind. Die dwelms was in boeke in haar tas versteek.
“’n Aanklag van dwelmhandel sal teen haar aanhangig gemaak word en sy sal Maandag in die Kemptonpark-landdroshof verskyn,” het Naidoo gesê. Die dwelms sal intussen vir forensiese toetse gestuur word om te bepaal of dit wel kokaïen is.