Meer as R12 miljoen se onwettige sigarette by grenspos gevind

(Foto: SAPD Noordwes)

ʼn 44-jarige Zimbabwiër is Vrydag deur die teenkorrupsie-ondersoekeenheid in Noordwes in hegtenis geneem toe hy glo onwettige sigarette van meer as R12 miljoen wou smokkel.

“Volgens die inligting wat ontvang is, wou die verdagte, ʼn vragmotorbestuurder, die land omstreeks 06:40 van Botswana binnekom by die Skilpadhek-grenspos,” sê lt.kol. Amanda Funani, woordvoerder van die polisie.

Vragmotors word nie tydens beurtkrag toegelaat om enige grenspos oor te steek nie, aangesien die rekenaars dan vanlyn is.

“ʼn Polisiebeampte, wat die grens patrolleer, het gesien hoe die vragmotor van die grens wegry in die rigting van Zeerust. Die beampte het sy bevelvoerder in kennis gestel, die vragmotor is agternagesit en voorgekeer voor dit Zeerust kon bereik. Die bestuurder is beveel om terug te ry na die Skilpadhek-grenspos.”

SAID- en doeanebeamptes is versoek om die vragmotor te deursoek en daar is op bokse sigarette afgekom wat die vragmotorbestuurder versuim het om aan doeanebeamptes te verklaar. Die waarde van die sigarette beloop R12 868 509,00.

Die bestuurder is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van onwettige sigarette. Hy sal binnekort in die Lehurutshe-landdroshof verskyn.

“Die polisiebeampte, wat die vragmotor toegelaat het om die grenspos te verlaat, word ook ondersoek. Klagtes van dwarsboming van die gereg kan bygevoeg word wanneer die ondersoek afgehandel is.”

Die saak is aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) in Noordwes oorgegee vir verdere ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

Mooi, aan die beapte wat dit op gemerk het. Sluit die ander een toe en gooi die sleutel weg!!!!

Charles ·

Jy eer n sisteem wat sy mense onderdruk en hulself verryk én moedig hul aan om ander op te sluit? Ai tóg!

Charles ·

Smaak lekkerder as plaaslike, wettige sigarette. Enige iemand wat sê die groot handelsname is lekker is na ’94 gebore.

Amelia ·

Niemand kan meer “wettige ” sigirette bekostig nie dis hoekom daar goedkoper sigerette ingesmokkel moet word Hoe is dit dat zim se sigerette so goedkoop is

VaalDonkie ·

Hulle het seker nie “sin tax” op die goed nie. Ek onthou hoe ek R7 vir ‘n pakkie 20 betaal het in 2000. Dit behoort in vandag se geld omtrent R32 te wees. Maar hoeveel is dit, R60?

VaalDonkie ·

EK het in 1999 ‘n pakkie JPS gerook wat HEERLIK gesmaak het. Jy het die smaak van brannewyn of speserye gekry. Nog nooit weer daai smaak gekry van enige sigarette nie. Camel Filter en Marlboro was ook lekker daai tyd. Maar skielik het alles net soos rook en kanker begin smaak. Ek het jare gelede al ophou rook, en as ek vir die snaaksigheid ‘n trek vat, dan proe ek nog steeds niks soos wat daai JPS gesmaak het nie.

Truman Burbank ·

Daardie tyd was Camel n “Turkish and American blend”. JPS ook. Ek onthou hulle goed. En my ander gunsteling, Winston Soft pack.

kaplyn ·

Ek hoop die sigarette word vernietig en nie oorgelaat aan “beamptes van die gereg” wat dit vir die verryking van hulle eie sakke verkoop nie.

Truman Burbank ·

Gaan jy dieselfde se as hul so fonds maak van baba weggooi doeke?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.