Meer klagtes oor omgewingsmisdade, minder ondersoeke

Besoedeling van die Hennopsrivier in Centurion. (Foto: Twitter/ CityTshwane)

Klagtes oor omgewingsmisdade het verlede jaar met 52% toegeneem, in vergelyking met vorige jare en tientalle meer oortreders is skuldig bevind. Die getal ondersoeke wat van stapel gestuur en vir vervolging oorhandig is, het egter verlede jaar afgeneem.

Dit volgens die nasionale verslag oor nakoming en afdwing van omgewingswette (NECER), wat die afgelope week bekendgemaak is.

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake, sê dit is ʼn teken dat Suid-Afrikaners misdade wat met die omgewing te doen het, ernstiger opneem. Uitdagings met betrekking tot kapasiteit het egter tot gevolg gehad dat minder sake ondersoek en vir vervolging oorhandig is. Die Groen Skerpioene is volgens wet getaak om hierdie misdade te pak.

“Al sien ons ʼn toename in bewustheid van omgewingsmisdade by Suid-Afrikaners, is die impak wat hierdie misdade op die land en sy burgers het, steeds rede tot kommer,” het die departement die afgelope week gesê.

Talle klagtes is verlede jaar op nasionale, provinsiale en munisipale vlak gelê, sowel as aan bepaalde staatsbeheerde entiteite gekommunikeer. Die meeste van die klagtes hou verband met onwettige storting, afval, waterbesoedeling en stropingsvoorvalle, sê die departement.

Luidens die verslag het klagtes oor onwettige storting en afval tydens die 2022-’23-boekjaar van 46 tot 146 toegeneem en klagtes oor waterbesoedeling van 51 na 155.

Die getal oortreders wat skuldig bevind is, het ook met 55% toegeneem, van 58 tot 91 skuldigbevindings in 2022.

Die getal kriminele dossiere wat in die 2022-’23-boekjaar geopen is, het egter met 7% afgeneem, van 952 na 885 klagtes. Die getal dossiere wat aan die nasionale vervolgingsgesag oorhandig is, het ook met 6% afgeneem, van 391 tot 359.

(Grafika: Megan Swart.)

Die Groen Skerpioene het verlede jaar altesaam 662 mense in hegtenis geneem vir ʼn verskeidenheid oortredings. Die getal oortreders wat pleit ooreenkomste met die staat aangegaan het, het van ses tot agt toegeneem en die getal boetes wat uitgereik is nadat oortreders skuld beken het, het ook effens toegeneem (11%), van 1091 in 2021 tot 1211 verlede jaar. Die gemiddelde waarde van hierdie boetes het egter in dieselfde tyd met 25%, van R408 000 na R308 000, afgeneem. ʼn Boete van R10 miljoen is wel aan ʼn munisipaliteit uitgereik, nadat dit skuldig bevind is aan besoedeling.

Die verslag wys ook ʼn kommerwekkende afname van 6% in die getal inspekteurs wat hierdie tipe misdade moet ondersoek. Teen 31 Maart 2023 het 3 215 inspekteurs op nasionale, provinsiale en munisipale vlak gewerk. Die getal veldwagters wat natuurlike hulpbronne in die land se netwerk van beskermde gebiede moet help bewaar, het wel met 6% (130) toegeneem.

Baie meer pro-aktiewe besigtigings van fasiliteite (61% meer) is ook in die vorige boekjaar jaar uitgevoer. Die getal reaktiewe besigtigings het egter met 45% afgeneem, met 1 048 reaktiewe besigtigings verlede jaar.

“Ten spyte van uitdagings met betrekking tot kapasiteit en ʼn toename in die getal misdadige aktiwiteite verlede jaar, gaan die Groen Skerpioene voort om hul grondwetlike pligte uit te voer deur die omgewing te beskerm op ʼn manier wat nie nadelig vir die gesondheid en welstand van die land se burgers is nie,” sê die departement.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.