Meer slange steek kop uit in Bfn-buurte

Argieffoto

Inwoners van Bloemfontein word versoek om op hul hoede te wees vir slange in dié stad se woonbuurte. Dit is dikwels inwoners se troeteldiere wat in die slag bly.

’n Deeltydse slangvanger in Bloemfontein wat graag anoniem wil bly, vertel hy word oorval met oproepe van inwoners wat vra dat hy slange uit hul erwe moet verwyder. Hy sê hy kry met sowat vier slange per week te doen en gewoonlik is dit uiters giftige slange soos pofadders of geelslange.

Hy versoek inwoners om ekstra versigtig te wees in hierdie tyd omdat slange nou meer begin rondseil op soek na kos en plek vir oorwintering.

Veeartse by die Fichardtpark-dierekliniek in die stad sê hulle het in die afgelope twee tot drie maande soveel as 40 slangbytgevalle gehad. In meeste van die gevalle was dit ’n pofadder- of geelslangbyt wat in of buite die stad plaasgevind het. Hierdie slange se gif kan dodelik vir enige troeteldier en selfs mense wees.

Dr. Ingrid Metz, ’n veearts by die dierekliniek, vertel sy het Dinsdagaand drie honde wat deur pofadders in twee verskillende gebiede gepik is, tegelyk behandel. Daar is verlede naweek altesaam sewe pofadderbytgevalle behandel. Sy het ook verlede week met ’n rinkhalsbyt te doen gekry.

Volgens Metz word meeste honde in die gesig, aan die voorpote of borskas gepik.

“Omtrent 80% tot 90% van die honde wat met slangbyte na ons kliniek toe kom, word gered. Ons beoordeel gewoonlik die hond se toestand as hy by ons aankom. Partykeer gee ons teengif indien dit nodig is, ander kere het die hond nie so baie gif gekry nie, en kan ons die hond met net die nodige medikasie behandel,” vertel Metz.

Die dier se toestand word bepaal afhangende van hoeveel gif die slang vrystel en waar presies die slang die dier gepik het. Sy sê die hoeveelheid gif hang ook nie van die slang se grootte af nie. “Partykeer sal groot slange nie hul gif op ’n klein hondjie mors nie en daarom net ʼn klein bietjie gif vrystel.”

Metz sê pofadders is sitotoksies, wat beteken dat die slang se gif die dier of mens se liggaamweefsel aantas. Die weefsel gaan stelselmatig van die gif dood, die hele sisteem raak toksies en die dier of mens kan dan later doodgaan. Sy sê ’n geelslang is neurotoksies, wat beteken dié slang se gif tas jou senuweestelsel aan. Volgens Metz word geelslangbyte baie meer gevaarlik as pofadders s’n beskou en word teengif altyd toegedien.

Nie al die diereklinieke in die stad hou volgens Metz teengif aan nie omdat dit so duur is. Daar was ook onlangs ’n produksieprobleem en teengif was moeilik om in die hande te kry.

Metz sê slange beweeg in die herfs gewoonlik meer omdat hulle gereed maak vir hul winterslaap. Hulle seil rond en soek kos en plek waar hulle kan oorwinter. Hoewel slangbyte jaarliks in dié tyd volop is, sê Metz hierdie jaar kry hulle met veel meer slangbyte as in vorige jare te doen.

“Dit kan ’n kombinasie van faktore wees. Omdat dit die afgelope ruk so baie gereën het, is daar ook meer gras en plantegroei en dus meer rotte of kos vir die slange.”

Die hoër reënval het ook ander toestande soos bosluiskoors tot gevolg omdat daar meer insekte is.

Inwoners word aangeraai om die gebied rondom hul erwe skoon te hou en afval en vullis so gou as moontlik te verwyder omdat dit slange kan lok. Waar daar meer gras of vullis is, is daar moontlik meer kos, soos rotte, vir slange.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Stof ·

As ek reg onthou, is Bloemfontein mos die setel van die regsprekende gesag…

quartus ·

Dit is te wagte dat slange nou in stede en dorpe invaar. Vullis word nie verwyder nie. Dit lok muise en rotte. En dit lok natuurlik die slange,

Eragrostis ·

Ek dink jy slaan die spyker (oorsaak) op die kop. Dis ń munisipale bestuursprobleem wat oorsprong hiertoe gee. Dis slangprobleem is maar net ń uitvloeisel van die omgewing wat die munisipaliteit skep.

OW ·

Hierdie is nie net ‘n munisipale bestuursprobleem nie.Dit is ook ‘n probleem op privaat eiendom.Na meer as 33 jaar se ondersoeke by oa,privaat eiendom kom jy ook op agterplase af, waar die eienaars/huurders boer met rommel,wat skuilplek bied vir knaagdiere en slange.Beide munisipale en privaat eiendom moet skoon gehou word om probleme te voorkom.

Annestha ·

Dis nie net Bloemfontein nie. Kuruman/ Danielskuil in die Noordkaap het net soveel gevalle waar troeteldiere gepik word. Pofadders is “gesaai” hier. Ek het sélf amper n troeteldier verloor. Danksy die veerarts in Kuruman, Dr van der Westhuizen is my hond terug by die huis.

Karina ·

Dankie tog ek bly nie in BLoemfontein nie! Sterkte mense in BLoem, dit is nou iets wat “my laat hardloop lat die stof so staan”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.