Meer water vir Gauteng

Argieffoto (Foto: congerdesign/Pixabay)

Meer water sal as ʼn tydelike maatreël aan Rand Water beskikbaar gemaak word om te voldoen aan die aanvraag na drinkbare water.

Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, het die grootmaat toewysing van water aan die Rand Water-stelsel as ʼn noodmaatreël verhoog om watertekorte in Gauteng se munisipaliteite te takel.

“Ons neem kennis van die toename in waterverbruik en beperkings wat Rand Water ingestel het in reaksie op dalende watervlakke in sy reservoirs. Ons verhoog dus tydelik die toewysing vir ontrekking van grootmaat water aan die Rand Water-stelsel om aan die aanvraag te voldoen,” het Mchunu gesê.

Dit sal na verwagting verligting bring aan munisipaliteite soos Johannesburg, Pretoria en Krugersdorp. “Die maatreël is egter slegs vir ʼn periode van nege maande terwyl ons op soek is na ʼn meer permanente oplossing vir waterverbruik en -bestuur.”

Rand Water onttrek tans 4 400 megaliter water en het reeds dié toewysing sedert die begin van die lenteseisoen met 1 600 megaliter oorskry.

Mchunu het Maandagoggend ʼn dringende vergadering met Rand Water en verteenwoordigers van die munisipaliteite belê wat deur die waterbeperkings geraak word.

“Alhoewel die verhoogde toewysing verligting sal bring, moet munisipaliteite egter steeds met maatreëls vorendag kom om diegene te hanteer wat water vermors, insluitend boetes en die uitdaging van waterlekkasies,” sê die minister. “As ʼn land beleef ons ʼn waterskaarste en tog gaan tot 40% van ons water verlore weens lekkasies. Dit ondermyn ons pogings om wateruitdagings te takel.”

ʼn Waterkomitee van die departement van water, Rand Water en alle Gautengse munisipaliteite, tesame met sakelui, sal aangestel word om ʼn holistiese, gekoördineerde bestuur van die waterstelsel in die provinsie te verskaf.

“Waterverbruik het die afgelope paar weke toegeneem weens die voortgesette hittegolf in die provinsie. Dit word vererger deur die somerreënval wat eers later in die binnelandse provinsies begin en inwoners maak dus van drinkbare water gebruik om byvoorbeeld tuine nat te lei of motors te was. Daar is steeds oorverbruik in die provinsie en dit plaas geweldige druk op die stelsel.”

Mchunu benadruk dit beteken nie daar is ʼn krisis van waterbeskikbaarheid nie, maar eerder ʼn manier om die stelsel te bestuur deur vermindering en gevolglik ʼn balans te bring tot die stelsel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pietertjie ·

Verstaan ek reg? Die tekort aan water in Gauteng is as gevolg van ‘n beperking of kwota-toewysing deur die ANC regering? Hulle besluit dus hoeveel water gebruik mag word. Wanneer besluit hulle hoeveel voedsel ons mag koop?

Koen ·

Dit word al van die jare toet gedoen. Daar was al water beperkings vir baie jare vandat ek kan onthou 1950’s, 60’s 70’s, 80’s 90’s…Pik by.

Andre ·

Ag pik by, onthou jy van droogtes? O, lol, en aardverwarming? Pik jy die waterverlies, of pik jy verby dit?

Pietertjie ·

Die probleem is nie dat daar tans te min water is nie, die Vaaldam is immers byna vol. Daar is ‘n gebrek aan BESTUUR, INSTANDHOUDING en BEPLANNING. Hoe kan ‘n minister “toestemming gee” dat daar meer water gelewer mag word, as daar nie voldoende water beskikbaar is nie? Lees mooi wat die berig sê, en DINK.

Jan ·

Die verskil is dat hierdie waterbeperkings is nie agv damme wat leeg is nie. Die damme is vol. Hierdie is as gevolg van wanbestuur.

En die 50% wat verlore gaan agv lekkasies is nie by die eindgebruiker nie. Jy sal dit definitieg aan jou sak voel en baie vinnig seker maak dat dit reg is.

PoppieK ·

Sit al amper 4 weke sonder water. En by ons plaaslike winkels en supermarkte mag jy nie meer as 10l water koop nie. Buiten dit, sit ons met klere wat nie gewas kan word nie – uniforms van die kinders en my man wat in die polisie is. Wanneer gaan dit ophou? Hoe moet ons lewe?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.