Meeste mediese navorsing onbetroubaar, wys studie

Deur James Stent

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

’n Onlangse navorsingsartikel het ’n krisis in mediese navorsing onthul, naamlik dat meer as die helfte van kliniese proewe metodologies só gebrekkig is dat die resultate daarvan nie vertrou kan word nie.

Wetenskaplikes het meer as 1 600 kliniese proewe bestudeer wat mediese ingrypings toets en bevind dat meer as 60% ʼn “hoë risiko van vooroordeel toon”. Dít beteken dat die bevindings van die studies nie volkome betroubaar is nie. Navorsers reken dat sowat 88% van geld wat aan kliniese proewe bestee word, vermors word.

In dié navorsingsartikel sê Stefania Pirosca, Frances Shiely, Mike Clarke en Shaun Treweek dat ʼn onbetroubare navorsingsontwerp en swak statistiese metodologie beteken dat die meeste ewekansige proewe ’n vermorsing van tyd, geld en moeite is, en van twyfelagtige of geen wetenskaplike waarde is nie.

Die navorsingspan het 1 659 ewekansige kontrole-proewe ondersoek wat tussen Mei 2020 en April 2021 in 84 lande plaasgevind het en waarby 400 000 deelnemers betrokke was, asook 193 multinasionale proewe.

Die meerderheid proewe (62%) het ’n hoë risiko van vooroordeel getoon. Proewe waar die risiko van vooroordeel onduidelik was, was verantwoordelik vir 30% van dié wat gekontroleer is, terwyl proewe met ’n lae risiko van vooroordeel (dié wat vertrou kan word) net 8% van die totaal uitmaak.

“Proewe wat swak bestuur word, waar ons min vertroue in die resultate het, is nie net algemeen nie, maar verteenwoordig die meerderheid van proewe in alle lande en dwarsoor die meeste kliniese velde.

“Alle proewe rakende dwelms en alkohol het byvoorbeeld ’n hoë risiko van vooroordeel getoon. Die mees betroubare veld was narkose, met 60% van proewe wat ’n lae risiko van vooroordeel toon.”

Die navorsingspan het ook data van hoëgehalte‑gestandaardiseerde en sistemiese resensies gebruik wat deur Cochrane bekendgestel is, ʼn internasionale organisasie wat help om proefuitslae in te samel en te versprei ten einde mediese besluitneming te verbeter.

“Power wetenskaplike metode het oral voorgekom. Geen pasiënt of lid van die publiek behoort by ʼn twyfelagtige kliniese proef betrek te word nie en etiese komitees, soos befondsers, het ’n plig om te verhoed dat dit gebeur.”

SA power, maar Spanje en Duitsland erger

Sewe van die proewe wat die navorsingspan gekontroleer het, het in Suid-Afrika plaasgevind, waarvan vier ʼn hoë risiko van vooroordeel getoon het. In twee van die proewe was die risiko van vooroordeel onduidelik, terwyl net een van goeie wetenskaplike metode getuig het. Dit is soortgelyk aan die bevindings van gekontroleerde proewe wat in die VSA en die Verenigde Koninkryk plaasgevind het. Die betroubaarste wetenskaplike gesondheidsnavorsing is by multinasionale proewe gevind, met 23% wat ʼn lae risiko van vooroordeel getoon het.  Die minste betroubare toepassing van wetenskaplike metode, in lande wat 20 of meer ewekansige kontrole-proewe uitgevoer het, is in Spanje en Duitsland gedoen, met 86% en 83% van die proewe wat onderskeidelik ’n hoë risiko van vooroordeel toon. Hoewel net een jaar se uitslae tydens die navorsingstudie in ag geneem is, sê die navorsers dat hul bevindings met soortgelyke studies ooreenstem en dat “twyfelagtige wetenskaplike metode mettertyd die norm sal wees”. Statistici en navorsingsmetodekenners maak al  sedert Doug Altman se 1994-artikel, “The scandal of poor medical research”, in die British Medical Journal verskyn het, alarm oor bevooroordeelde navorsing. Dokters wil weet of hulle op ’n spesifieke behandeling kan staatmaak om ’n gewenste uitkoms te lewer, en het betroubare navorsing nodig. Die gewildste manier om dít te doen is ewekansige kontrole-proewe.

Ewekansige proewe wonderlik, maar afhanklik van statistici

Ewekansige kontrole-proewe is vir baie (hoewel nie almal nie) die goue standaard vir die verkryging van wetenskaplike kennis oor ’n mediese ingryping – hetsy medisyne of ’n ander tipe behandeling. Die manier waarop dié proewe uitgevoer word, is van kernbelang, aangesien dit die nakoming van die metode is wat eindelik bepaal of die uitslae wetenskaplik betroubaar is. Indien daar ’n hoë risiko is dat die resultate op enige manier bevooroordeeld kon wees vanweë foute met die wyse waarop die proef uitgevoer is, is dit nie betroubaar nie. Enige identifiseerbare bevooroordeling pootjie dus die betroubaarheid van die uitslae. Die groot aantal hoërisikogevalle blyk die oorsaak van ʼn “’n gebrek aan insette van metodoloë en statistici tydens die proefbeplanningstadium” te wees, tesame met onvoldoende kennis van navorsingsmetodes onder die proefspanne.

Twyfelagtige wetenskaplike metode tydens Covid-19 

Die Covid-pandemie het ’n oplewing in mediese navorsing gebring, en algemene aandag op die resultate van mediese navorsing gevestig. Die pandemie het merkwaardige wetenskaplike bevindings opgelewer, maar ook wetenskaplike fiasko’s geskep, soos die een wat ivermektien betref. Soos GroundUp voorheen berig het, het ’n oorsig van studies wat ivermektien as ’n moontlike behandeling vir Covid-19 ondersoek het, aanvanklik voorgestel dat die ontwurmingsmiddel tot beter resultate gelei het by diegene wat dit gebruik het.  Op die oog af blyk dit dat die klein studies wat hierdie gevolgtrekking ondersteun het, oplossings bied vir ’n laekoste‑, lewensreddende Covid-ingryping. Sodra die metodologie en statistieke egter noukeurig bekyk word, is baie van hierdie studies as onwetenskaplik beskou. Die mediese navorsingswaghond Retraction Watch lys tans 12 navorsingsartikels wat voorgee om ivermektien te ondersoek, maar wat daarna teruggetrek is of waaroor kommer uitgespreek is. Volgens hul rekords is 235 Covid-navorsingsdokumente tot op hede teruggetrek.

Daar is hoop

Die navorsingspan meen die krisis kan met eenvoudige regstellings opgelos word, wat die aantal onbetroubare studies drasties sal verminder. Daar moet bloot verseker word dat die metodologiese beginsels waaraan proewe onderwerp word, nie in gedrang gebring word nie.  Die span sê voorts dat die besteding van meer geld aan statistiese kundigheid eindelik tot besparings sal lei.  ’n Oorsig in 2015 het 142 proewe ondersoek wat ’n hoë risiko van vooroordeel toon. Die navorsers het bevind dat in die helfte van die hoërisiko-proewe sou die nodige metodologiese aanpassings om dié risiko te verminder, min tot geen geld gekos het nie.  “Meer metodoloë en statistici is nodig, en geld moet belê word in die opleiding van mense met hierdie kundigheid, en belegging in toegepaste metodologienavorsing en ondersteunende infrastruktuur.”

*Hierdie berig het oorspronklik op GroundUp verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Nie Verbaas ·

En daar word die media alweer aan die neusies rondgelei. Snaaks dat berig op Ivermektien fokus en nie op die effekte van die inspuiting nie wat die vraag laat ontstaan of die publikasie dalk doelbewus aan die media vrygestel is.

Frank John ·

En so word die man in die straat benadeel, wêreld wyd. Almal skep net en gee onder gemiddel terug.
Niemand, nie eens die navorsers en medesie kan vertrou word nie, alles dryf ons terug om weer op God te vertrou en nie mens nie.
Die ou sê ding kom weer na vore: Mens sal jou altyd teleurstel maar God nooit. Vertrou op God en nie op die mens se vermoë nie, selfs nie jou eie.

Swerwer ·

En dan word ‘n mens gedwing/forseer om aan die inentingsprogram deel te neem. Ou boere rate bly maar die beste medikasie.

Witbaard ·

Sit en wonder of die WGO nie agter al die navorsing sit nie

Chris ·

Subtiel word ivermectin weer aangeval – indien iets aangeval word deur die media, dan moet jy weet dit is ‘n gevaar vir die Groot Agenda wat gedryf word.

Andre ·

Wanneer mediese beheer-instansies probeer om vitamiene en voedsel aanvullings as medikasie te probeer verklaar waarvoor voorskrifte benodig word, is hul eie medikasies baie verdag.

ENFM ·

Wat beteken “volg die wetenskap” dan? Is hierdie “navorsing” die bron waarop mediese dokters hulle diagnoses, raad en behandeling grond?
Voor navorsing gedoen word, is die navorsingsvoorstel veronderstel om deur ‘n navorsingskomitee en dan deur ‘n etiekkomitee goedgekeur te word. Op hierdie komitees, is daar veronderstel om statistikuste en kenners op die gebied van metodologie te wees. Botsing van belange, befondsing en elke stap wat gevolg gaan word, moet uitgeskryf word. Goeie navorsing word vir eweknie beoordeling gestuur, voor die studie gepubliseer kan word in geakrediteerde joernale.
As dit nie deur hierdie proses is nie en deur industrie geborg word, neem maar die bevindinge met ‘n knippie sout..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.