Meeste werkers nog ondergronds by Implats se Rasimone-myn

Van die mynwerkers wat na die oppervlak teruggekeer het. (Foto: PHILL MAGAKOE/AFP)

Meer as 160 mynwerkers het teen Dinsdagaand na die oppervlak teruggekeer nadat daar met ʼn onbeskermde staking begin is by Implats se Bafokeng Rasimone-platinummyn naby Rustenburg in Noordwes.

Meer as 2 000 mynwerkers is egter steeds van Maandagoggend af ondergronds nadat die staking begin het.

Implats het sy ernstige kommer oor die situasie uitgespreek en gesê sy hooffokus bly die gesondheid en veiligheid van sy werknemers.

“Impala Bafokeng het geteikende noodmaatreëls ingestel om die welstand van diegene wat aan die onwettige betoging deelneem, hetsy vrywillig of onder dwang, te beskerm. Daarbenewens is daar ook ondersteuningsmaatreëls vir besorgde familielede en vriende ingestel.”

Volgens Implats is die uitgange vir die noord- én suidskagte oop en toeganklik, en is hulp beskikbaar vir werkers wat verkies om die skagte te verlaat. Teen 19:00 Dinsdag het 167 werknemers veilig na die oppervlak teruggekeer, met ongeveer 2 038 werknemers wat steeds ondergronds is.

Dit blyk intussen dat die onlangse verandering in eienaarskap by Impala Bafokeng tot die ondergrondse staking aanleiding gegee het. Volgens Implats is daar verskeie waninterpretasies en misverstande, waaronder die siening dat opgehoopte pensioenfondssaldo’s aan werknemers uitbetaal kan word, dat statutêre belastingbepalings nie op bonusbetalings van toepassing moet wees nie en bekommernisse met betrekking tot die historiese werknemerwinsaandeelreëling.

“Implats doen alles in sy vermoë om die veiligheid, gesondheid en welstand van sy werknemers te verseker, om die situasie te ontlont en ʼn pad na konstruktiewe betrokkenheid te skep. Die onwettige ondergrondse staking stel nie net lewens in gevaar nie, maar ook lewensbestaan.”

ʼn Soortgelyke situasie het hom verlede week by die Gold One Modder-Oos-myn in Springs afgespeel.

Honderde myners is vier dae lank ondergronds as gyselaars gehou, gemartel en uitgehonger. Die bende wat hiervoor verantwoordelik was, het klaarblyklik namens die mynwerkersvakbond Amcu eise aan die mynbestuur gestel.

Maroela Media het vroeër berig dat myners ure lank met pikstele en planke met spykers aan, aangerand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.