Megan Griesel-moord: Drie wil dringende borgtogaansoek indien

Die drie verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle verantwoordelik was vir die moord op Megan Griesel, sal Dinsdag ʼn dringende aansoek om borgtog indien.

Monica Nyuswa, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in Mpumalanga, het bevestig Mcolisi Makama (27), Sanele Magagula (27) en Godfrey Mashile (32) gaan die hof vra om hulle op borgtog vry te laat.

Al drie het verlede week in die landdroshof op Mashishing (Lydenburg) verskyn op aanklagte van moord. Tydens die verskyning is bykomende aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie ook teen die drie aanhangig gemaak.

Volgens Nyuswa sal die staat, weens die ernstige aard van die aanklagtes, die drie se aansoek teenstaan. Al drie het boonop vorige veroordelings teen hulle.

Die 20-jarige Griesel, ʼn kleuterskoolonderwyseres, is verlede jaar doodgeskiet toe sy vermoedelik in die kruisvuur beland het tydens ʼn winkelrooftog op dié dorp in Mpumalanga.

Sy was in haar pa, Stephan, se bakkie op pad terug huis toe, toe sy in die skietery beland het.

Maroela Media het voorheen berig ʼn groep swaar gewapende verdagtes het op die noodlottige dag in die vroeë oggendure op ʼn vulstasie op die dorp toegeslaan en die geriefswinkel beroof.

Dieselfde verdagtes is daarna na ʼn nabygeleë sakeonderneming waar hulle glo drank gebuit het.

Dit is in dié stadium dat Griesel verby die rooftoneel gery het en doodgeskiet is. Die rowers het haar vermoedelik vir ʼn veiligheidsbeampte aangesien.

Inwoners van Lydenburg het reeds op sosiale media gevra dat mense Dinsdag die hofverskyning in solidariteit met Griesel se familie bywoon. Tydens vorige verskynings het inwoners plakkate gehad wat lui dat die beskuldigdes agter tralies moet bly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Lizl ·

In my opinie moet moordbeskuldigdes nie eers die opsie van parool kry nie. Sluit toe en klaar.

DEON ·

Hulle moet die gemors in die tronk hou, hulle gaan net verdwyn en nooit aangekeer word nie. Bring trrug die doodstraf vir sulke kriminele

tweeling ·

As die rowers haar as veiligheids beampte gesien het, het hulle na haar geskiet en is dit nie kruisvuur nie.

domheks ·

“dringende borgtogaansoek indien” so sal ons howe die gemors laat wegkom. Die skuldige het mos meer regte as enige iemand anders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.