Melkrivier-plaasaanval: Staatshospitale verkla

Berdus Henrico en Estelle Nieuwenhuys. Foto: Via Facebook

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Vrydag twee staatshospitale by dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, verkla weens die beweerde onprofessionele en nalatige hantering van Berdus Henrico (39) wat Dinsdagaand ternouernood aan die dood ontkom het tydens ʼn plaasaanval in Limpopo.

Henrico en sy verloofde, Estelle Nieuwenhuys, is Dinsdag omstreeks 21:00 deur drie gewapende verdagtes op ʼn plaas buite Vaalwater aangeval. Hulle was alleen in die huis op die plaas in die Melkrivier-omgewing waar Henrico die plaas vir iemand bestuur.

Henrico is drie keer geskiet. Een van die koeëls wat hom getref het, het die hoofslagaar in sy nek skrams gemis. Dié koeël het hom onder sy kaak getref en is agter by sy nek uit.

Die ander twee koeëls het in sy skouer vasgesit. Een koeël is eers Donderdagmiddag verwyder en Henrico gaan tot Maandag moet wag sodat toetse gedoen kan word om vas te stel wanneer die oorblywende koeël verwyder kan word.

Die aanvallers het ook op Nieuwenhuys geskiet en haar skrams getref. Die aanvallers het met elektriese ware en ʼn geweer op die vlug geslaan.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, het Vrydag gesê Henrico is Dinsdagaand by die eerste staatshospitaal in Modimolle (Nylstroom) opgeneem, waar hy aanvanklik na wense behandel is.

“Woensdag is hy na ʼn staatshospitaal in Polokwane oorgeplaas waar hy ure lank in die wagkamer by ongevalle moes wag. Nadat skanderings gedoen is, het hy nie meer ʼn bed gehad nie en moes hy in die hospitaal staan en wag vir verdere behandeling. Hy het ook geen pynmedikasie ontvang nie,” het Roets gesê.

Henrico is daarna oorgeplaas terug na die hospitaal in Modimolle, waar hy lank in ongevalle gelê het.

“Henrico het gesmeek vir pynmedikasie, maar moes baie lank wag voordat enige medikasie toegedien is. Hy het die personeel ingelig dat die medikasie nie werk nie, maar hulle was nie bereid om hom verder te help nie. Daardie aand het hy gesmeek om ontslaan te word omdat hy te veel pyn gehad het, waarvoor hy nie behandeling ontvang het nie. Henrico moes ook drie keer deur die nag vir die hospitaalpersoneel, wat besig was om sokker te luister, vra om die radio sagter te stel omdat dit hom daarvan weerhou het om te slaap. Intussen is die koeëls nie uit sy liggaam verwyder nie.”

Volgens Roets was die personeel en sekuriteitswagte by albei hospitale ongeskik met hom en sy verloofde, ondanks die feit dat hulle erg getraumatiseerd was ná die plaasaanval.

Henrico is uiteindelik Donderdag na ʼn private instelling in Bela-Bela (Warmbad) geneem, waar hy deur ʼn dokter behandel en een van die koeëls verwyder is.

“Dít kom op ʼn growwe skending van Henrico se menseregte neer en ons eis dat die minister van gesondheid persoonlik ingryp.”

In ʼn skrywe aan dr. Motsoaledi het AfriForum die volgende geëis:

  • Dat ʼn formele ondersoek na die optrede van die personeel by hierdie hospitale van stapel gestuur en dissiplinêre stappe gedoen word, indien nodig;
  • Dat ʼn formele verskoning aan Henrico en sy geliefdes uitgereik word;
  • Dat Suid-Afrikaanse boere verseker word dat hulle nie aan diskriminasie onderworpe is by die departement van gesondheid nie;
  • Dat ʼn dringende vergadering tussen die minister en AfriForum belê word om die kwessie van plaasaanvalle te bespreek, asook die departement se reaksie op dié krisis.

Henrico is intussen uit die private instelling ontslaan. Hy en Nieuwenhuys bly tans by familie in Bela-Bela. Hy moet Maandag ʼn ortopeed gaan spreek, waarna verdere mediese behandeling bepaal sal word om die tweede koeël te verwyder.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het Vrydag aan Maroela Media gesê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die Dorset-polisie ondersoek ʼn saak van huisroof en poging tot moord. Die ondersoek duur voort.

Chrisna Henrico-Van der Merwe, Henrico se suster, het intussen ʼn bankrekening oopgemaak om haar broer met die mediese onkoste te help, aangesien hy nie ʼn mediese fonds het nie. Mense wat ʼn bydrae wil maak, kan vir haar ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

67 Kommentare

jongste oudste gewildste
Lenor

Ek kan simpatiseer in hierdie geval. Ek was ook in n staatshospitaal met my kind se geboorte en het amper my lewe verloor as gevolg van die suster se nalatigheid. Ek het eklampsie gehaf en as gevolg daarvan n trombose gehad -die sig in my een oog heeltemal verloor – dit nadat ek twee van die susters verskeie kere gewaarsku het dat ek kan voel daar is fout met my oog. Hulle het my geignoreer en omtrent halfuur na my kind se geboorte het ek die trombose gehad. Hulle kon nie minder gepla gewees het nie, inteendeep die volgende dag… Lees meer »

Keelvol

Tipiese diens by staatshospitale..meeste wat da werk is altyd ongeskik en worry glad nie oor enige mens al ht j wat n suster is n beleid afgele om mense in nood te help…weet nie hoekom j ju in n rigting in vat as j nie dt wil dun en mense mt n suurgesig wil help as j ooit lus voel om dt te duni…sit kameras in staatshospitale j sal skrik viri nare waarheid…sit die minister onder mombakies en stuur dai persoon da in…dis al hu hul sal sien hu mense alerdaags behandel word…

Hond

Nee …. ! wie het die steke ingesit?

Boerseun

En die hof gaan wat presies doen?

GM

Waar is die mense nou wat belastinggeld uitdeel vir die psigiatriese pasiënte se families? Dié twee mense is meer getraumatiseerd as die ‘familielede’ wat geld gaan ontvang, maar nooit eers hul familielede besoek het nie.