Memorandum aan Ramaphosa, Motshekga oor sluiting van skole

(Argieffoto)

Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het Vrydag ʼn omvattende memorandum aan die kabinet gestuur waarin hulle met die hulp van internasionale navorsing aantoon waarom skole nie te midde van die Covid-19-pandemie weer moet sluit nie.

“Navorsing wys dit is nie in belang van die kind, die groter ekonomie of selfs die geveg teen die verspreiding van die virus om skole te sluit nie. Die skade is veral in armer gemeenskappe,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

ʼn Vurige debat heers in hierdie stadium oor die kwessie of skole weer moet sluit terwyl infeksies aanhou toeneem. Verskeie onderwysvakbonde eis onder meer dat skole nou moet sluit en eers weer moet heropen wanneer die pandemie sy piek bereik het. Daar is egter geen ooreenstemming oor wanneer dít kan wees nie.

Navorsing wat vandeesweek bekend gemaak is, wys dat hongersnood onder kinders aan die begin van die afsonderingstydperk byna verdubbel het. Nagenoeg nege miljoen kinders is ook daagliks afhanklik van voedingskemas by skole.

Solidariteit sê ʼn meer genuanseerde benadering is nodig om te besluit of skole moet oopbly.

“Eenvoudig oop- of toe- argumente kan nie werk nie. Skole moet volgens hulle unieke omstandighede besluite neem. Die virus gaan nog lank met ons wees en ons moet leer om verantwoordelik daarmee saam te leef,” het Hermann gesê.

Regter Hans Fabricius het vroeër in ʼn hooggeregshofuitspraak waarin hy ʼn aansoek dat skole gesluit moet bly van die hand gewys het, gesê daar moet volledig met die reg op lewe gehandel word en nie net met die voorkoming van sterftes nie. “Die reg op lewe beteken iets meer as biologiese lewe. Dit is verweef met die waardigheid van mense. Albei is sentraal in ʼn samelewing waarin elke lid van die gemeenskap erken en waardeer word,” het Fabricius gesê.

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, het gesê die pandemie kan nie onderwys en die ekonomie onbepaald tot stilstand bring totdat daar eendag ʼn teenmiddel gevind word nie.

“Dit is nodig om die veranderende konteks in ag te neem en om werkbare planne te beraam om onderwys voort te sit, sonder om die beste belang van onderwysers en leerders op die kort- en langtermyn te ondergrawe.”

dr-dirk-hermann-blf-konferensie-2019-02-14

Dr. Dirk Hermann. (Foto: Reint Dykema)

Buys het gesê die SOS ondersteun die verantwoordelike en veilige oopmaak van skole en dat skole se bestuur en skoolbeheerliggame hul unieke omstandighede die beste ken en kan besluit hoe hulle die situasie hanteer.

Tegnologie soos aanlyn klasse bied ook oplossings wat in die verlede bykans ondenkbaar was.

Hermann skryf in die brief aan Ramaphosa en Motshekga die belangrikste kwessie bly die beste belang van kinders.

Hy sê ook ʼn sluiting van skole gaan vernietigend wees vir beheerliggaamposte en dat dit maklik vir ʼn vakbond soos Sadtu is om te eis dat skole toemaak, terwyl hul lede in die openbare sektor werk en steeds ten volle betaal word.

Hermann sê die skoolstelsel moet ook binne die konteks van die groter ekonomie en gemeenskap gesien word en dat die ekonomie nie oopgestel kan word terwyl skole gesluit bly nie.

“Baie kinders gaan sonder toesig by die huis moet wees. Hulle gaan blootgestel wees en die risiko van virusoordrag word groter as kinders hulself in die gemeenskap moet besig hou. Skole is ʼn baie meer gedissiplineerde omgewing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Cleopatra69 ·

Hul wil he onderwyser moet betaal word al is die skole toe. Hoeveel ander mense sit in n situasie van geen werk geen betaling. Belasting betalers moet maar opdok. Heeltemal verregaande.

Adele ·

Die skole is goed vir ons kinders. Al is die omstandighede vreemd, is hulle baie gelukkig om ñ bietjie normaliteit terug te hê. Al hoe meer ouers begin terugkeer werk toe – wie gaan tuis na die kinders omsien? Kom ons hoop die regering DINK vir ñ slag goed voor oorhaastige besluite deur sogenaamde “experts” slaafs gevolg word!

gehasie ·

ANC het ‘n duister en bose agenda gebasseer op Stalinistiese beginsels. Selfverryking is maar een van hierdie doelstellings hul vernietiging van die totale samelewing is vir hulle van geringe belang. In 26 jaar was net geplunder en afgebreek en die sluiting vd skole is net nog ‘n stap in die vernietigende ekskursie!

Vanessa ·

Kinders moet online klasse kry. Die skole word so ontwrig. Daar is baie kinders wat die virus kry en dan die ander kinders aansteek. Ouers sterf van die siekte.
. Betaal jou skoolgeld, my dogters is onderwyseresse en werk hard om die leerders online te onderrig. Hulle sit nie en niks doen nie. Ek weet nie waar die mense daaraan kom nie. Hulle bring hulle kant. Ons betaal ons skoolgeld, want die onderwysers moet ook eet en het goed om te betaal! Hulle salarisse word reeds gesny. Maar ek stem saam sluit die skole tot en met Oktober en laat hulle online skool gaan. Mense wat van die huis af kan werk doen dit en bly veilig.

Patches ·

Hoe moet ouers wat voltyds werk die online skool toepas? Hoe moet ouers wat altwee n verminderde salaris aangaan om skool geld te betaal? En so kan ek seker nog baie vrae vra. Beheerliggaam poste is in gedrang terwyl staats poste steeds salaris kry. Indien die skole toemaak moet staats poste ook n paycut vat ! Ek weet daar is onderwysers wat nog probeer en dan is daar ander wat net minimaal of niks doen nie. Ek kan ook n baar bladsye afrol en whats app aan iemand . Om skole toe te maak gaan nie die virus stop nie of beperk nie. Enige een kan dit enige plek kry. Die probleme vir verspreiding is op ander plekke. Ek kan nie voltyds werk en skool gee nie. My kinders is in die laerskool en kan nie net gelos word op hulle eie nie.

Erik ·

Ek is moeg vir mense wat onderwysers kritiseer, maar nie self weet waarvan hulle praat nie. Ek is ‘n onderwyser, en dis chaos op die oomblik. Om skool te hou tans, is soos om met ‘n fiets met ‘n pap wiel te probeer ry.

Daar is lui onderwysers, wat niks doen nie, of daar nou ‘n pandemie is of nie. Meeste van ons WIL egter werk en hou van ons werk. Die probleeem is, sodra daar ‘n positiiewe geval in die skool is, sluit die DvO en DvG die skool vir ongeveet 3 dae. Dan moet die skool gesaniteer word, wat duisende rande kos. Wanneer die skool wel oop is, is dit teen 50% oop, en stuur baie ouers hul kinders nie skool toe nie. Dit beteken ons gee klas by die skool, maar ook aanlyn, om die ander kinders te akkommodeer.

Ons wat onderwysers is het ook kinders wie se skoolgeld ons betaal, ons betaal ook belasting, en indien jy in die privaat sektor werk en ek koop jou produk of diens, betaal ek jou salaris.

Warrior ·

Ek is ‘n onderwyseres, maar ook n mamma. Daar is reeds ondw dood agv covid, wat by kinders aangesteek is, wat v my kinders en familie? Net omdat sommige ouers nie n ekstra myl wil stap vir sy /haar kind ni, is dit ok om my lewe in te boet??? En my gesin??? Dink jy dis is christelik?
Hoekom hou julle aan om kinders te verwek as julle nie vir hulle kan sorg nie? So nou moet hulle net skool toe vir kos???
Stupid!!!!
Jys welkom om in my plek te gaan skoolhou tussen al d snotneus en hoesende kinders. Asb, werk in my plek en dan prt ons weer….

Elsa ·

As onderwyser dink ek nie skole moet sluit nie. Ons is geseënd om geen Covid geval te gehad het vandat ons heropen het nie. Ons saniteer, skandeer en is versigtig. Ons leerders werk hard en is gelukkig. Grade maak beurte om in te kom sodat ons teen ongeveer50% opereer. Waarom hulle weer ontwrig.?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.