Merkwaardige Rebecca tem nóg ʼn uitdaging

Rebecca Nagel is ’n merkwaardige Suid-Afrikaner. Foto: Verskaf.

Onderkry is min. Veral as jou naam Rebecca Nagel is.

Die jong KwaZulu-Nataller se lewe het in 2014 in ʼn oogwink verander toe sy in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was.

“Ek het om ʼn blinde draai gekom en sien toe iemand kom reg van voor op my afgepyl. Ek het uitgeswaai en van die pad afgery,” het sy vantevore aan Maroela Media gesê.

Sy is van daardie dag af ʼn parapleeg.

Maar sy het vroeër nie net ʼn oefensessie by die Wodapalooza-kompetisie in Miami, Florida in die VSA gewen nie, haar uiteindelike vertoning het haar ook ʼn plek op die podium verseker.

Foto: Verskaf.

Meer onlangs het sy die eerste Suid-Afrikaanse paraplegiese atleet geword om ʼn velddraf-roete van 21 km suksesvol aan te pak toe sy by die pragtige ANEW Resort Ingeli Forest in aksie was.

Hierdie merkwaardige hoofstuk van haar lewe word Saterdagaand in ’n dokumentêre program, Unstoppable: The Rebecca Nagel Story, op M-Net uitgesaai.

“Die roete was eintlik die perfekte metafoor vir ʼn mens se lewe. Dit het my in ʼn stadium ongeveer 45 minute geneem om een van die paadjies te bemeester; ʼn uitdaging wat beslis vir seer hande gesorg het, maar ek het deurgedruk en nie moed verloor nie. Nodeloos om te sê was dit ʼn taai uitdaging – veral geestelik – maar ek is ongelooflik dankbaar vir almal se hulp en bystand.”

Foto: Verskaf.

Kevin Burley, ANEW Hotels & Resorts se bedryfsbestuurder, was een van Nagel se steunpilare tydens die avontuur.

“Dit was ʼn merkwaardige ondervinding vir die hele span om hierdie reis saam met Rebecca aan te pak. Haar veggees en vasberadenheid om elke liewe hindernis te oorbrug, herinner ʼn mens dat jy eintlik tot so baie dinge in staat is. Ons kan almal iets by haar leer,” het Burley gesê.

Rebecca saam met Ysland se Sara Sigmundsdottir. Foto: Verskaf.

Nagel word gemotiveer deur dit wat binne haar vermoë is, eerder as dit wat sy nie kan doen nie – maak nie saak of dit in die CrossFit-gimnasium of op ʼn veldtroete is nie.

“Ek is dankbaar vir die vermoëns wat ek het en ek wil dit nie onder ʼn maatemmer wegsteek nie. Mense aanvaar dit as vanselfsprekend om te stap – ja, ek kan dit nou weliswaar nie doen nie – maar ek wil my beste gee in alles wat ek kan doen.”

By Wodapalooza het van die wêreld se voorste CrossFit-atlete gereed gestaan om foto’s saam met Nagel te neem.  Sy is ongetwyfeld ʼn baie inspirerende mens.

  • Unstoppable: The Rebecca Nagel Story word Saterdagaand om 19:00 op M-Net (kanaal 101) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.