Twee mans, van wie een ’n beampte in diens van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), is vandeesweek in hegtenis geneem in verband met die kaping van ’n vragmotor wat chirurgiese maskers vervoer het.
Phaladi Mooko, raadslid van gemeenskapsveiligheid by die Stad Ekurhuleni, het in ʼn verklaring gesê die vragmotor is Donderdag op die N12 in Boksburg gekaap. Die polisie het enkele minute ná die kaping toegeslaan.
Volgens Mooko het polisiebeamptes twee van die verdagtes enkele meters van die gekaapte vragmotor aangetref. Die verdagtes het die beamptes gewaar waarna hulle in ’n wit VW Polo gespring en weggejaag het. Dié motor was egter later in ’n motorongeluk betrokke en die verdagtes is op die ongelukstoneel in hegtenis geneem.
’n Voorlopige ondersoek het intussen aan die lig gebring dat een van die verdagtes ’n metropolisiebeampte is. Die wegkommotor behoort ook aan die metropolisie. Daar is in die proses ook op ’n vuurwapen wat aan die metropolisie behoort en een onwettige vuurwapen beslag gelê, het Mooko gesê.
Volgens Mooko kon vier ander verdagtes wat vermoedelik ook by die kaping betrokke was daarin slaag om die polisie te ontduik en is hulle steeds op vrye voet.
Frans Moko, die Stad Ekurhuleni se LUR vir gemeenskapsveiligheid, het in die verklaring sy misnoeë met die voorval uitgespreek. “Ons kan nie misdadigers in ’n wetstoepassingstruktuur toelaat nie. Ons is vasbeslote om boewe uit die diens te verwyder. Ons mense het polisiemanne en -vroue nodig wat die wet handhaaf om hulle te kan beskerm en wet en orde in die stad te kan verseker,” het Moko gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Die is ladwekkend. Ons seun word nêrens aanvaar nie want sy standaarde en waardes is te hoog. Nou wat nou?
Wow . Werk vir die empd. Hulle gee vir jou die opleiding die voertuig die vuurwapen om mee te roof . Wow ek moet daar gaan werk
Julle gaan die meerderheid moet ontslaan. Die land is propvol oneerlike beamptes. Hulle wedywer onder mekaar om te sien wie die ergste is.
Wolf in skaapklere, laat sy aanstellingsproses ondersoek word.
Straf geregsdienaars wat sulke dade pleeg x2.