Midvaal-raadslede gee verhoging prys

Die DA het die besluit van raadslede in die Midvaal-munisipaliteit, wat besluit het om hul jaarlikse salarisverhoging prys te gee, geloof.

Die DA lei die plaaslike owerheid.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake kondig jaarliks ʼn salarisverhoging van raadslede aan. Vanjaar beloop dit soveel as 6,4% het Dennis Ryder, ʼn DA-LP, gesê.

Tydens ʼn aanlyn vergadering wat die raad Donderdag gehou het, het burgemeester Bongani Baloyi ʼn voorstel van die burgemeesterskomitee ter tafel gelê dat raadslede die moeilike omstandighede van inwoners van die gebied nie uit die oog moet verloor nie. Daar is dus ʼn beroep op raadslede gedoen om nie die verhoging te aanvaar nie en dit eerder aan die Sebenza Mbokodo-fonds te skenk.

Die munisipaliteit het die fonds op die been gebring om aanvangskapitaal aan verdienstelike kleinsakeondernemings wat deur vroue besit word, te verskaf.

Die DA en die VF Plus het die mosie gesteun. Die ANC- en EFF-raadslede het die mosie teengestaan, maar is in die stemmery verslaan. Ingevolge die besluit van die raad ontvang die raadslede van die ANC en EFF dus ook nie salarisverhogings nie.

“Dit is prysenswaardig dat die raadslede, wat reeds groot opofferings in diens van hul gemeenskappe maak, die druk op die gemeenskap erken en hulle persoonlike salarisverhogings daarvoor prysgee,” het Ryder gesê.

Die DA sê hy is beïndruk met sy verteenwoordigers in Midvaal vir die onselfsugtige besluit wat hul plaaslike gemeenskap en ekonomie gaan baat. Die Vaal-streek van die DA het ʼn beroep op alle munisipaliteite gedoen om besluite te neem wat inwoners eerste stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Willem ·

Dit gaaf dat anc en eff ook nie verhoging kry. Dink mos net aan hulself

Jr ·

DA erken die rol ook van die VF. Sonder hulle sou julle nie gewen het nie

johanf ·

Goeie besluit, laat die gieriges maar gierig bly, so leer jy wie gee vir die gemeenskap om, en wie net vir hul eie sakke…..

Jan ·

Hoe kan hulle nog dink aan verhoogings . Daar is geen diens lewering nie.

Jan ·

Wel gedaan Midvaal, wat ‘n mooi voorbeeld vir die res van die selfsugtige, korrupte spul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.