Miljarde dollars se kripto gebuit

(Foto: iStock)

Kripto ter waarde van meer as $3,5 miljard is in 2022 gebuit – wat dit ’n rekordjaar maak wat kriptodiefstal betref.

Volgens data van CryptoPresales.com is meer as $8,5 miljard dollar aan kriptogeldeenheid tot op hede deur kuberkrakers gesteel, met diefstal wat veral oor die afgelope vyf jaar in die kriptobedryf toegeneem het.

In 2017 is nege kuberaanvalle aangemeld, wat in 2021 tot 132 aanvalle net in dié jaar gestyg het. In Augustus 2021 het bykans $730 miljoen weens kriptoveiligheidsbedreigings verlore gegaan.

Uit dié bedrag is $610 miljoen dollar deur ’n enkeling in die sogenaamde Poly Network-kuberrooftog gebuit – die naasgrootste kripto-aanval nog.

Verlede jaar was egter die ergste jaar wat kriptodiefstal betref, met meer kriptogeld wat in hierdie jaar gesteel is as in 2019, 2020 en 2021 saam.

Volgens Comparitech se data het kuberaanvallers in 2021 meer as $2,7 miljard in 132 kripto-aanvalle gesteel. Dit het verlede jaar met ’n enorme 45% toegeneem.

Statistieke dui op 192 kriptodiefstalle in 2022, waartydens $3,57 miljard van beleggers se geld gebuit is.

Uit die 500 voorvalle wat sedert 2011 aangemeld is, het sowat 65% in die afgelope twee jaar plaasgevind.

Dit blyk voorts dat April, Mei en Oktober 2022 die besigste maande vir kuberkrakers was, met 20 voorvalle wat verlede jaar in elk van hierdie maande aangemeld is.

2022 was ook die jaar met drie van die grootste kriptodiefstalle nog.

In Maart verlede jaar het Ronin Network, ’n spelgebaseerde kriptonetwerk, aangekondig dat hulle aangeval is en ’n enorme $620 miljoen weens die voorval kwyt is. Dit was die grootste kriptodiefstal nog.

Sewe maande later het kuberkrakers op Binance – ’n maatskappy wat in kriptogeldeenheid handel – se geldeenheid BNB toegeslaan en $570 miljoen gesteel – die derde grootste kriptodiefstal tot vandag. Deur vinnige optrede kon van hierdie gesteelde BNB-munte gelukkig gevries word, hoewel $110 miljoen steeds verlore gegaan het.

In November 2022 het kuberkrakers kriptogeld ter waarde van $477 van die nou bankrot FTX-maatskappy gesteel – wat as die vyfde grootste kuberaanval aangedui word.

FTX se stigter, Sam Bankman-Fried (30), is tans in ’n groot regstryd gewikkel en word van grootskaalse bedrog aangekla. Sy verhoor sal na verwagting in Oktober begin. Die sakeman word daarvan beskuldig dat hy beleggers se geld onwettig gebruik het om sy eie Alameda Navorsingsverskansingsfonds te ondersteun, eiendom te koop en miljoene dollars uit politieke bydraes te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Etienne ·

Crypto is koning! Ek is in volle beheer en so sal dit bly!

OW ·

“Good luck” vir jou.Ek dink kripto is Mammmon.Ek sal dit nie op ‘n goue skinkbord ontvang nie.

JD ·

Ek stem, as jy hardware wallet het waar jy die sleutels hou dan isjy shap.
Ons wag geduldig vir 2024/25

Hennie ·

En almal het gesê dis n veilige geldeenheid. Snaaks dat daar nog steeds mense is wat hierdie “slang olie” geldeenheid aanbeveel. Geen toekoms in Krypto nie mense….

Wielspore ·

Kripto handel is soos om ‘n vaste bedrag tussen mense op te deel en te verhandel oor ‘n tydperk.
Die getal en waardes Kripto’s bly dieselfde, die een maand is een persoon skatryk en die ander bietjie armer, volgende maand kry iemand anders ‘n beurt om ryk te wees en die ander verloor. Ditto

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.