Miljoene in vervoer vir pendelaars met spesiale behoeftes belê

Die Stad Kaapstad het R17 miljoen in nuwe voertuie vir die Dial-a-Ride- (DAR-)diens vir pendelaars met spesiale behoeftes belê. (Foto: Verskaf)

Die Stad Kaapstad het R17 miljoen in nuwe voertuie vir die Dial-a-Ride- (DAR-)diens vir pendelaars met spesiale behoeftes belê.

Die nuwe vloot bestaan uit 13 voertuie en sal glo teen die middel van die maand in volle werking wees.

Luidens ’n verklaring deur die metroraad het DAR tans 319 gereelde gebruikers, terwyl 2 300 gebruikers op ’n ad hoc-grondslag vervoer word.

Die laaste keer dat die Stad die DAR-vloot vervang het, was in 2015.

Die nuwe vloot kan altesame 64 sittende passasiers met spesiale behoeftes en 56 passasiers in rolstoele per rit inneem. Afgesien van die gespesialiseerde toerusting om rolstoelgebruikers in dié voertuie op te lig, is die busse ook met kameras en opsporingstoestelle toegerus.

Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike vervoer, sê dié belegging bevestig die metroraad se verbintenis om toegang tot geleenthede aan “diegene wat dit die nodigste het” te skep.

“Baie mense wat rolstoele gebruik, of diegene met verswakte sig, kan nie kom waar hulle moet wees nie en maak op die DAR-diens staat.

“Die DAR-diens is uniek deurdat sodanige gebruikers wat nie konvensionele openbare vervoer kan gebruik nie, by hul drumpel opgelaai en na hul bestemming vervoer word – of dit nou ’n skool, die werkplek of hospitaal is.

“Die DAR-diens sal tot 30 September 2023 in sy huidige vorm voortduur wanneer die Stad se kontrak met die DAR-operateur, HG Travelling Services, tot ’n einde kom. Intussen werk ons [die metro] ​​aan ’n langtermyn-sakeplan vir ’n volhoubare diens wat meer kostedoeltreffend is en meer gebruikers kan bystaan.

“Ongelukkig is die vraag na dié vervoerdiens baie groter as wat ons tans kan verskaf, daarom moet ons ander moontlikhede ondersoek om toegang te verbeter.”

Daar word van gebruikers vereis om die diens, wat Maandae tot Sondae tussen 05:00 en 22:00 bedryf word, vooraf te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Wiehan ·

Soos Ramaphosa laas week in Kaapstad gese het, in sekere plekke werk goed nog!

christo ·

Die Stad Kaapstad se metroraad werk omdat:
1. Dienslewering daar is vir almal, ryk en arm en dienste word gelewer
2. Die meeste inwoners trots is op hulle Stad en eienaarskap neem van die stad
3. Wetstoepassers hulle werk professionele amptenare is en inwoners gehoor gee aan wette en burgermeesterkomittee lid JP Smith luister na watter toerusting die brandweer, metropolisie en wetstoepassers benodig.
4. Die inwoners hulle munisipale rekeninge en die wat kwalifiseer vir korting dit kry
5. Die inwoners is verdraagsaam teenoor mekaar
6. Korrupsie nie geduld word nie
7. Selfs Ramaphosa het erken dat die Stad Kaapstad doeltreffend bestuur word na die parlementsgebou se brand
8. ‘n Publieke vervoerstelsel het wat werk en hulle smeek PRASA dat die Metro die spoorpendeldiens mag bedryf want Pravin Gordhan se ANC se staatsondernemings kan of wil nie
9. Hulle sit daad by die woord, geen leë beloftes of verskonings nie

Kokerboom ·

As Pretorianer smag ons na dieselfde maar deelname word gesmoor weens politiekery…tragies

Lee101 ·

Baie goed Kaapstad. Dit is omgee wat se sulke dinge n sukses maak. Ek verwelkom dat my tax geld hoperlik vir dit gaan in plaas van korrupsie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.