Min verbetering in SA se vullisterreine

Heilbron vullisterrein. (Foto: Verskaf)

Min van Suid-Afrika se wettige, en onwettige, vullisterreine voldoen steeds aan die minimum vereistes soos uitgestippel deur die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis.

AfriForum het in sy jaarlikse vullisterreinouditverslag bevind dat 81,5% van die land se terreine nie op standaard is nie. Dit beteken dat slegs 30 van die 162 (18,5%) terreine wat geoudit is, in dié stadium aan die minimum vereistes voldoen.

Die burgerregteorganisasie het die verslag Woensdag bekendgestel, nadat vullisterreine vroeër vanjaar in die betrokke dorpe en stede waar AfriForum takke het, geoudit is.

Die getal terreine wat aan die minimum vereistes voldoen, het wel toegeneem van 27 (17%) verlede jaar tot 30 (18,5%) vanjaar. Tog lyk dit of munisipaliteite oor die algemeen die afgelope jaar min vordering gemaak om die toestand van hul vullisterreine te verbeter.

Van die terreine wat vanjaar die vrotste gevaar het, voldoen aan slegs 4% van die voorgeskrewe vereistes. Dié terreine is in onder meer Randfontein in Gauteng, Thabazimbi in Limpopo, Secunda in Mpumalanga, Springbok in die Noord-Kaap en Viljoenskroon in die Vrystaat.

Die terrein wat die slegste in die Wes-Kaap gevaar het, is Lutzville wat aan 14% van die vereistes voldoen het. Dit is een van 13 munisipaliteite in dié provinsie wat aan minder as 80% van die vereistes voldoen.

ʼn Aantal terreine wat sonder permitte bedryf word, soos dié van Vryheid in KwaZulu-Natal, Frankfort in die Vrystaat en Swartruggens in Noordwes, voldoen onderskeidelik aan 0%, 0% en 2% van die vereistes.

“Die swak persentasie kan toegeskryf word aan verskeie probleme wat by munisipaliteite ondervind word wat lei tot die swak en onwettige bestuur van ons vullisterreine,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

“Dit is kommerwekkend om te weet die meerderheid vullisterreine in Suid-Afrika voldoen nie eens aan die minimum vereistes nie, maar terselfdertyd is dit verstaanbaar aangesien geen munisipaliteit tot verantwoording gebring word oor die wanbestuur nie.”

Volgens toepaslike wetgewing en regulasies moet ʼn vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit in faktore soos toegangsbeheer, die voorkoming van onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie. Verder mag daar geen mediese afval op enige vullisterrein wees wat as algemene terrein geklassifiseer is nie.

AfriForum verwerk elke jaar dié vereistes in 33 vrae wat dan gebruik word om die vullisterreinoudit te doen.

Luidens die verslag is daar verskeie terreine, soos dié Onderstepoort (Gauteng) wat vanjaar om een of ander rede gesluit is. Die terrein in Boksburg aan die Oos-Rand is gesluit vir konstruksie, terwyl die een in Evander (Mpumalanga) bloot te gevaarlik is om te betree. Die terrein in Koster (Noordwes) is sedert verlede jaar gesluit om gerehabiliteer te word en die een in Wolmaransstad (Noordwes) moes toemaak aangesien dit die afgelope paar jaar nie aan die nodige vereistes voldoen het nie.

“Dit wek kommer, aangesien dit beteken dat daar nie vullisterreine in sekere dorpe of stede meer is nie, wat waarskynlik tot onwettige storting sal lei.”

Só het die vullisterreine per provinsie gevaar ten opsigte van die minimum vereistes:

Provinsie Getal vullisterreine wat geoudit is Getal vullisterreine wat aan meer as 80% van die minimum vereistes voldoen Getal vullisterreine wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie
 2022 2022 2022
Gauteng 19118
KwaZulu-Natal 918
Limpopo 15213
Mpumalanga 22022
Noord-Kaap 18117
Noordwes 23320
Oos-Kaap 606
Vrystaat 25025
Wes-Kaap 251213
Nasionale totaal 162 30 132

Die verslag sal nou met Barbara Creecy, minister van omgewingsake, bespreek word as deel van ʼn deurlopende gesprek wat reeds in 2019 deur AfriForum begin is.

“Ons praat reeds sedert 2019 met Creecy oor die vullisterreinoudit. Uit die vergaderings is dit duidelik dat daar onvoldoende kommunikasie bestaan tussen nasionale, provinsiale en plaaslike owerhede,” sê De Klerk.

Dit resultate gaan ook aan die omgewingsbestuurinspekteurs, bekend as die Groen Skerpioene, oorhandig word vir verdere ondersoek.

De Klerk meen egter dat die Groen Skerpioene oorlaai is met ondersoeke, aangesien AfriForum in 2018 ʼn verslag oor rioolbesoedeling aan die inspekteurs oorhandig het en daar eers vanjaar ʼn suksesvolle skuldigbevinding gekry is.

Hoop vir beter vullisterreine

Benewens die swak toestand van die meerderheid vullisterreine in die land is daar tog hoop om eendag elkeen op standaard te kry. Terreine in Alberton in Gauteng en Richardsbaai in KwaZulu-Natal is sedert verlede jaar voldoende opgeknap om aan die vereistes te voldoen.

Nog ʼn suksesverhaal is dié van die JB Marks-plaaslike munisipaliteit in Potchefstroom wat ʼn daadwerklike ommekeer gemaak het deur ʼn bekwame private maatskappy aan te stel om uit te help by sy vullisterrein.

In die afgelope drie jaar se ouditresultate het dié terrein verbeter van 16% in 2020 en 46% in 2021 tot 82% in 2022.

De Klerk meen munisipaliteite moet na hierdie soort oplossings begin kyk om Suid-Afrika se vullisbestuur op ʼn aanvaarbare standaard te kry.

Slegs vyf van die terreine wat AfriForum geoudit het, is in private besit. Al hierdie terreine het ʼn persentasie van 88% en hoër gekry, behalwe een wat reeds in 2019 toegemaak het.

“Dit is ons almal se verantwoordelikheid om toe te sien dat ons omgewing nie besoedel word nie en daarom wil ons ook tot ʼn skoner Suid-Afrika bydra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Pietertjie ·

Nie net ‘n gewone vullishoop nie. Dis ‘n stinkende vullis- en rioolhoop. Letterlik en figuurlik.

andre ·

In die dorp waar ek woon in die Noord Kaap, stort hulle vuilis sommer op die sypaadjies, lee erwe is vuilishope, parke is vuilishope, die dorp is n stinkende vieslike vuilis en riool gat.

Johann ·

SA: Die Vullisterrein. GEEN verbetering….dalk meer van toepassing?

Miskruier ·

Ons terrein brand al die laaste 6 weke, ek word snags wakker van die giftige plastiekreuk.

Frank John ·

Die hele land lyk al soos ‘n asgat en ‘n riool plaas

Christine ·

Als wat deur BEE bestuur word is ‘n vullis stortingsterrein.

Swerwer ·

Dit is logies dat die vulles terreine nie aan die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur vir Vullis sal voldoen nie want die wet is seker nog in die ou bedeling geskryf en die nuwe bedeling moet mos alles vernietig van die ou bedeling. Dit is hoekom hul robots en stopstrate verontagsaam.

AJ ·

Al die afdelingswinkels moet verplig word om hulle verpakkingsmateriaal te herwin en self te prosesseer (vernietig?) om die LAS op die munisipale vullisverwydering stelsel te verlig.

Verbrand die vullis om elektrisiteit op te wek?

Nico ·

In Duitsland werk dit so jy moet die vullis by jou huis skei en in aparte sakke gooi, die nie bruikbare vullis word weg gegooi die ander soos papier, karton, plastiek en glas word weer her gebruik of herwin.

agnes ·

Halo! Elke dorp en stad is n vuilnis storting terrein. Hoe gaan “Hulle” dit eendag opruim? Daar is nie meer hoop oor nie behalwe n hoop vuilnis

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.