Min vordering met Port Shepstone-probleme

Die Ugu-distriksmunisipaliteit het al ‘n geruime tyd waterprobleme. (Foto: Facebook)

Volgens alle aanduidings begin gedeeltes van Port Shepstone in KwaZulu-Natal ineenstort met verouderde infrastruktuur wat al hoe meer die gees gee. Daarby is daar oënskynlik geen einde in sig aan die dorp se waterprobleme nie.

KwaZulu-Natal se permanente afgevaardigdes in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het ook hul uiterste frustrasie te kenne gegee oor die gebrek aan vordering om die legio probleme in die gebied te pak.

Enoch Mthethwa, hoofsweep van die afgevaardigdes, sê hulle het vandeesweek saam met hul eweknieë by die provinsiale wetgewer die stand van sake in die Ugu-distriksmunisipaliteit opgevolg, nadat die parlement die gebied ook in November verlede jaar besoek het.

Die afvaardiging het onder meer die Port Shepstone-polisiestasie besoek omdat dié stasie verlede jaar uitgesonder is as een waar “verrottende en verbrokkelende” infrastruktuur opknappingswerk benodig. Daar is sedertdien nie veel gedoen om die situasie te verbeter nie, het die komitee bevind.

Die stasiebevelvoerder het aan die afvaardiging gesê geen planne is nog ingestel om die stasie te help om net aangehoudenes na die Durban Westville-gevangenis te vervoer nie.

Die Ugu-distriksmunisipaliteit het die afvaardiging ook ingelig oor die water- en sanitasieprojekte en diensleweringsuitdagings wat die gebied in die gesig staar.

“Die afvaardiging is bekommerd oor die stadige vordering met die hantering van waterprobleme en die feit dat die munisipaliteit buitensporige pryse betaal het vir die sink van boorgate wat nie water lewer nie,” sê Mthethwa.

Volgens die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake het Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, met sy laaste besoek ʼn bykomende R150 miljoen aan die distriksmunisipaliteit beloof sodat opknappingsprojekte van stapel gestuur kan word.

Vroeër vanjaar is daar verslag gedoen oor hoe die geld aangewend is, maar Mthethwa sê daar is maande later nog weinig gevorder.

“Ons is ontevrede omdat daar nog geen tydraamwerk ingestel is vir die inwerkingstelling van die opknappingsprojekte nie,” sê hy.

Die munisipaliteit sê beraadslaging oor die projekte sal voortgaan, terwyl amptenare spook om net geringe waterprobleme, soos gebarste pype, in die gebied te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Oosieoos ·

Almal weet Ugu en Rnm is albei totaal onbevoeg maar niks word daaraan gedoen nie net leë beloftes. Hier word al vir jare gekla maar die skaamtelose regering het geen eer nie

Anel ·

Dit is omdat daar geen bevoegde persoon is wat die werk kan doen of enige beplanning daaromtrent kan doen nie. Hulle kan mekaar net met sulke skaap oë aankyk!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.